Forum Home Forum Home > General Rugby > SA Rugby Issues
  New Posts New Posts RSS Feed - Loftus Versfeld met hoed in hand
  FAQ FAQ  Forum Search   Events   Register Register  Login Login


The next game for the Lions will probably be a Super Rugby warm-up match somewhere in January 2020, while the 1st Super Rugby match is against the Jaguares in BA on 1 Feb 2020, kickoff at 23:40 SA Time.

Loftus Versfeld met hoed in hand

 Post Reply Post Reply
Author
Message
Transvaal View Drop Down
Admin Group
Admin Group


Joined: 30-Mar-2016
Status: Offline
Points: 30283
Post Options Post Options   Thanks (0) Thanks(0)   Quote Transvaal Quote  Post ReplyReply Direct Link To This Post Topic: Loftus Versfeld met hoed in hand
    Posted: 28-Jan-2019 at 5:45am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/loftus-versfeld-met-hoed-in-hand-20190127

“Loftus en die Blou Bulle was nooit ’n werk nie. Dit was ’n ongelooflike voorreg.”

Met dié woorde sal Barend van Graan, die Blou Bulle se uitvoerende hoof, Loftus Versfeld Donderdag vir die laaste keer ná sy 35 jaar op dié rugbyplaas groet.

Van Graan het op Loftus die soet en suur van rugby ervaar, groot oomblikke en erge laagtepunte beleef. Maar soos ’n betroubare vuurtoring was hy in die goeie en slegte tye op sy pos om Bulle-rugby te dien.

“Loftus, my gesin, my vrou, my kinders sê altyd alle paaie lei na Loftus toe. Dit is altyd op ons roeteplan met naweke om te kyk of alles goed gaan,” het hy aan Rapport vertel.

“Dit is deel van ’n lewenswyse. Want Loftus en die Blou Bulle was vir my nooit ’n werk nie. Dit was ’n ongelooflike voorreg en ek moet dankie sê vir my werkgewer, die direksie en aandeelhouers dat hulle so lank met my uitgehou het. Loftus sal deel van my lewe bly en rugby sal deel van my lewe bly.”

Van Graan se pad loop al sedert 1983 parallel met die Blou Bulle s’n.

Een ding het ek by prof. Daan Swiegers geleer: As jy wen, moet jy dit geniet. Dit gebeur nie elke dag nie.

“My twee hooftake destyds was die organisering van afrigting en dan die PVM-rugbyskool, wat die voorloper van Bulletjie-rugby was soos ons dit ken. Dan het ek ook na die bemarking en stadionbestuur gekyk.

“Maar sedert daardie tyd, toe rugby nog ’n amateurspel was, maar ons die spelers ’n geldjie gegee het, het so baie verander.

“28 September 1995 was ’n groot oomblik toe rugby ’n beroepsport geword het. Eenwording in ons rugby in 1992 was ook so ’n oomblik. Ook was dit ’n besonderse ervaring om in 1991 die Wêreldbeker-toernooi te kon bywoon as gaste van die Internasionale Rugbyraad. En natuurlik ons Wêreldbeker in 1995.

“Beroepsrugby het egter alles verander. Vandag nog is dit ’n uitdaging om ’n sigbare skeidslyn tussen die amateurspel en die beroeps-een te bepaal.”

Oorlewing is op die oomblik die wagwoord in Suid-Afrikaanse rugby en daar is volgens Van Graan baie slaggate en gevare wat oorkom sal moet word as rugby voorspoed wil ervaar.

Van Graan sê reguit as dit nie vir 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi was nie, Loftus Versfeld veel anders sou gelyk het, want nege jaar gelede het die nasionale regering R140 miljoen bestee om Loftus op te knap.

“Indien Loftus nie deel van 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi was nie, het ons waarskynlik ’n groot krisis gehad met die onderhoud van die stadion. En ’n mens sal daardie soort geld in die toekoms moet vind, want Loftus is ’n ou stadion, die hoofpaviljoen is immers al in 1977 ingewy, in 1984 die noord- paviljoen, 1988 die suid-paviljoen en ook die boonste dek van die oos-paviljoen.

Blou Bul-ondersteuners is volop wanneer ons wen en hulle trek swaar as ons verloor. En dis omdat die geskiedenis van die Blou Bul so vol welslae is.

“Sokker was vir ons ’n soort uitkoms om daardie nodige geld te kry. Ons vennootskap met Sundowns is nog ’n uitvloeisel daarvan.”

Maar alles by Loftus is nie neerdrukkend nie.

“Een ding het ek by prof. Daan Swiegers geleer: As jy wen, moet jy dit geniet. Dit gebeur nie elke dag nie. In die afgelope tien jaar het die Bulle nie ’n Curriebeker gewen nie, en in die afgelope nege jaar nie ’n Superrugby-trofee nie. Dit is altyd maklik om na die verlede te verwys en om te sê hoe goed dit gegaan het. Maar dit sal weer beter gaan. Ek glo met Alfons Meyer en Pote (Human), Lood (De Jager) en die nuwe bestuurspan is daar positiewe verwagtinge oor wat in 2019 kan gebeur.

Wanneer Van Graan sy deur op Loftus toetrek, sal 30 jaar se diens aan rugby saam met hom uitstap.

“My eerste groot herinnering in my tyd as werknemer op Loftus was my eerste Curriebeker- eindstryd – in 1983 toe Calla Scholtz en sy wit skoene opspraak gemaak het.

“Dit was destyds groot nuus en almal het oor Calla se wit tokse gepraat. Dis byna iets soos vandag se Superhelde wat op ons Superspanne se trui gaan verskyn.

“Dinge verander en vernuwe. Dit is ter wille van oorlewing. Maar daar is ook die verlede, soos die blou trui en die madeliefie. Albei het gebly al het so baie ander dinge verander.”

Van Graan was ook die visioenêre een wat in 2010 die Bulle in Soweto laat speel het in die half- en eindstryd van daardie jaar se Superrugby-reeks. Dit was om uit die boks te dink om nasiebou te bevorder.

Danny Jordaan het al verskeie kere gesê die Orlando-wedstryd het wit ondersteuning vir sokker in 2010 gekick-start.

“Ons het Danny Jordaan en Irvin Khoza gevra om te help om die nodige toestemming te kry. In ’n kort tydjie was dit gereël. Met die halfeindstryd het die toeskouers laat aangekom weens verkeersprobleme, maar dit was ál hik. Danny Jordaan het al verskeie kere gesê die Orlando-wedstryd het wit ondersteuning vir sokker in 2010 gekick-start.

“Vir die spelers was dit iets baie besonders. Die welwillendheid was oorweldigend. Winnie Mandela het met haar kinders kom kyk. Ons het die president daar gehad. Die impak wat dit op ons ondersteuners en die nasie gehad het, was aangrypend.”

“ ’n Mens moet een ding besef. Die Blou Bulle is in sy 81ste jaar en daar is baie hoë verwagtinge van die span. Partykeer sien mense dit as ’n negatief, maar jy moet onthou die standaarde wat die afgelope 81 jaar gestel is, is die maatstaf waaraan ons ondersteuners ons meet. So dit is iets wat ons self geskep het – deur die spelers uit die amateur-era en die professionele spelers, so as die druk op is moet jy luister.

“Nie alle ontevrede ondersteuners is altyd reg nie, maar een ding moet ek vir jou sê: Ek was by my seun Johann in Limerick, en wat ek by Munster se ondersteuners gesien het, laat my baie dink aan ons eie Blou Bul-ondersteuners.

“Blou Bul-ondersteuners is volop wanneer ons wen en hulle trek swaar as ons verloor. En dis omdat die geskiedenis van die Blou Bul so vol welslae is.

Ek glo die Bulle is op die regte pad om die nuwe mark te ontgin. As die kans verspeel word, gaan ons ’n stadion hê met spelers maar sonder toeskouers.

“Die ondersteuners is egter ons vriende. Ons kliënte. Hulle kom eerste.

“In minder goeie tye is dit my taak om my mense te beskerm en die druk op hulle te verlig. Hulle moet voel die direksie en die bestuur gee om vir hulle, en dat dinge beter sal gaan.

“Ons het voor 1998 baie afrigters gehad. Ek het die voorreg gehad om met 17 afrigters te werk, maar ná 1998 het ons baie meer stabiliteit gehad. Ons het onlangs egter weer ’n groter omset van afrigters ervaar.

Oor die toekoms is Van Graan seker dat grootskeepse veranderinge Loftus se uitdaging gaan wees.

“Ons het meer as 2 miljoen ondersteuners landwyd, en omtrent 70% van ons ondersteuners is nie wit nie. Ons het ’n ouerwordende wit ondersteunersbasis. Ook die demografie van Pretoria sê Loftus sal moet verander.

“Pretoria gaan oor tien jaar anders lyk, soos wat ’n mens besig is om te ervaar. Ek glo die Bulle is op die regte pad om die nuwe mark te ontgin. As die kans verspeel word, gaan ons ’n stadion hê met spelers maar sonder toeskouers.”
Back to Top
 Post Reply Post Reply
  Share Topic   

Forum Jump Forum Permissions View Drop Down

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd.

This page was generated in 0.063 seconds.