Print Page | Close Window

Heyneke, spelers het koppe gestamp

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Club Rugby
Forum Description: Club Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=8375
Printed Date: 28-Mar-2024 at 6:22pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Heyneke, spelers het koppe gestamp
Posted By: Transvaal
Subject: Heyneke, spelers het koppe gestamp
Date Posted: 14-Nov-2019 at 8:13am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/heyneke-spelers-het-koppe-gestamp-20191113" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/heyneke-spelers-het-koppe-gestamp-20191113

Hy is soms deur sommige van sy spelers daarvan beskuldig dat hy outokraties was, maar die begin van Heyneke Meyer se einde by die Franse klub Stade Français was dalk toe hy agteroor begin buig het vir spelers.

“Soms beweeg jy weg van dít waarin jy glo en dís waar jy die fout maak,” het Ricardo Loubscher, een van Meyer se assistente wat vandeesweek saam met hom die trekpas gekry het, Woensdag aan Netwerk24 gesê.

Meyer en die afrigters op sy bestuurspan – Loubscher, Pieter de Villiers, John McFarland en Dewald Senekal – is Dinsdag die deur gewys nadat Stade Français sewe van sy eerste nege wedstryde in die Top14-liga verloor het.

Verlede seisoen, Meyer se eerste aan die stuur van dié span, het Stade agtste op die puntelys geëindig.

Loubscher het hom vier maande gelede by Meyer-hulle in Parys aangesluit. “Heyneke is ’n ou met baie hoë standaarde en hy sit alles in met enige projek wat hy aanpak. Hy het dieselfde resep hier as by die Springbokke gevolg,” sê Loubscher.

“Dalk het ons te veel van die spelers gevra. In Suid-Afrika kan jy vir spelers sê op watter standaard hulle móét wees en hoe hulle daar gekry gaan word as hulle nie is nie. Hier (in Frankryk) sien hulle dit anders.”

Terwyl Stade Français onderaan die puntelys is, meen Louscher die skip sou vinnig omgekeer kon word. “Stade Français kry nou tien spelers wat by die Wêreldbeker-toernooi was, terug. Dis jammer dat die geleentheid nie daar gaan wees om saam met hulle te werk nie. Ons het baie na hul terugkeer uitgesien. Jy kan ná twee of drie wedstryde terug in die wedloop wees,” sê Loubscher.

Volgens Loubscher kan Meyer ook nie daarvan beskuldig word (soos wat in sommige kringe gedoen is) dat hy nie probeer het om Frans te leer nie. “Ons het twee keer ’n week Franse lesse gekry en Heyneke het ongelooflik baie moeite gedoen. Kritiek daaroor is ongegrond,” sê hy. “Heyneke het agteroor gebuig om almal te akkommodeer. In Suid-Afrika is dit in ons DNS om te weet watter kant van die skeidslyn ons moet wees. In Frankryk is die lyn ’n bietjie vaag.”

Wat die toekoms vir Meyer en sy assistente inhou, is vir eers onduidelik. Meyer het ’n dinastie by die Bulle gebou, wat hulle die mees suksesvolle Suid-Afrikaanse Superrugby-franchise in die geskiedenis gemaak het, maar die Pretoria-unie het met Alan Zondagh as direkteur van rugby nou ’n nuwe rugbyfilosofie omarm.

De Villiers, ’n voormalige Franse toetsstut, kan die belangstelling van Rassie Erasmus, die Bok-afrigter, prikkel. Erasmus wou hom in 2018 op sy bestuurspan aangestel het, maar Matt Proudfoot (wat ook lid was van Allister Coetzee se afrigtingspan) was steeds gekontrakteer by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) en het gevolglik voortgegaan om die Bokke in die skrums af te rig.

De Villiers was voorheen lid van Saru se spesialis-afrigtingseenheid, wat beroepspanne landwyd bygestaan het. “Elkeen van ons kan wegstap met die wete dat hy die beste weergawe van homself gegee het in sy werk,” sê Loubscher. “Ons het nie altyd die beloning gekry vir wat ons ingesit het nie. Dit laat ’n effens wrang smaak in die mond.”



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net