Print Page | Close Window

Crusaders-golf verswelg Leeus in Christchurch

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7808
Printed Date: 05-May-2025 at 1:40am
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Crusaders-golf verswelg Leeus in Christchurch
Posted By: Transvaal
Subject: Crusaders-golf verswelg Leeus in Christchurch
Date Posted: 26-Apr-2019 at 12:42pm
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/crusaders-golf-verswelg-leeus-20190426" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/crusaders-golf-verswelg-leeus-20190426

Jy kan nie teen donderweer hoes nie.

Dit het die Leeus se rugbyspan Vrydag tot hul spyt uitgevind in die Super-nederlaag met 36-10 teen die Crusaders in Christchurch.

Selfs ’n moedige vertoning in die eerste helfte was nie goed genoeg om sake vir hulle te red nie, en in die tweede helfte was die oormag net té erg en kon die Crusaders baljaar en die damwal laat bars.

Sommer al binne die eerste vyf minute het die Crusaders gaan druk met die senter Braydon Ennor wat deurgesny het in die middelveld.

Dit wou toe lyk asof die rekenaars nader getrek moes word om by te bly, maar die Leeus het hul verdediging opgeknap en met groot toewyding gespeel.

Hulle het algaande in die wedstryd gekom en meer van die bal gesien.

Die Crusaders is egter ’n span wat druk soos ’n spons absorbeer en wanneer hulle weer daardie een kans kry, dit benut.

In die laaste klompie minute voor rustyd het die sterk vleuel Sevu Reece eers vir Kwagga Smith soos ’n vrot vel afgestamp en toe nog ’n paar duikslae ontglip om oor te gaan.

Die gaping wat daar met die omdraaislag was (17-3), het nie eintlik reg laat geskied aan die Leeus se dapper vertoning nie.

Binne die eerste tien minute ná rustyd het die tuisspan sy voorsprong vergroot en daarmee die Leeus se weerstand geknak.

Die vleuel George Bridge se aptyt vir drieë is bevredig toe hy afgerond het en vanaf die afskop het hy dit weer gedoen ná ’n langafstand-poging.

Skielik het die Leeus se koppe gehang.

Daar was darem iets vir hulle om opgewonde oor te raak, toe Ruan Combrinck onderskep en die helfte van die veld genael het om die Leeus se enigste drie te laat verskyn.

Tog het die rooi golf van die negemalige Superkampioen hulle verswelg en die tuisspan het na hartelus begin nael en gapings gevind.

Met hierdie sege behou die Crusaders hul onoorwonne rekord teen Leeus in Christchurch en die Johannesburgers krap nog steeds kop oor wat hulle te doen staan om sukses daar te behaal.

* Puntemakers:

Crusaders 36 (17): Drieë: Braydon Ennor, Sevu Reece (2), George Bridge (2). Doelskoppe: Richie Mo’unga (4). Strafdoel: Mo’unga.

Leeus 10 (3): Drie: Ruan Combrinck. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoel: Jantjies.



Replies:
Posted By: Goue Leeu
Date Posted: 26-Apr-2019 at 12:47pm
Wel, ten minste het ons nou klaar getoer. Hoop regtig Warren se onttrekking was meer voorsorg en hopelik is Cyle nie af met 'n besering nie. Ons speel van hier af vier wedstryde tuis en twee weg (Durban en Loftus). Ons kan die uitspele haal, maar ons gaan spelers soos Marx, Whiteley en Brink nodig hê.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net