As dit nie vir ongeluk was nie, sal die Leeus ook geen geluk hê nie.
Die probleme van die veld af hoop net op vir hierdie span.
Die jongste drama wat hulle getref het, is dat hul inspirerende agtsteman en kaptein, Warren Whiteley, hom weens ’n kniebesering aan Vrydagoggend se kragmeting in Christchurch teen die Crusaders moes onttrek.
Beserings volg Whiteley nou al die afgelope twee jaarsoos ’n skaduwee. Eers was dit sy lies in die toetsreeks teen Frankryk, toe hy die eer ontneem is om die Springbokke op sy tuisveld, Ellispark, in die derde toets van daardie reeks aan te voer. Daardie besering het hom lank bloots gery en hy het ook een of twee ander ligte beserings gehad.
Daarna is hy vroeg vanjaar deur ’n borsbesering van die veld gedwing teen die Stormers. Hy het eers verlede week in die sege oor die Chiefs sy terugkeer gemaak.
Nou is dit weer sy knie wat lol en hom uit hierdie kragmeting hou. Die Leeus kon nie aandui hoe ernstig dit is en hoe lank dit hom nou weer buite aksie gaan hou nie.
Whiteley se plek as agtsteman, en ook kaptein, word geneem deur Kwagga Smith, wat van flank af skuif. Marnus Schoeman neem nou sy plek op flank.
Verlede jaar is baie daaroor gepraat dat Smith en Schoeman nie sommer saam ingespan kan word nie, omdat hulle albei gesien is as té klein. Nou word dié twee uit nood as kombinasie gebruik – en nogal teen die spiertiere van die Crusaders.
Schoeman se plek op die plaasvervangerbank behoort nou aan Hacjivah Dayimani.
Leeus: Ruan Combrinck, Sylvian Mahuza, Lionel Mapoe, Elton Jantjies, Aphiwe Dyantyi, Shaun Reynolds, Nic Groom, Kwagga Smith (k), Cyle Brink, Marnus Schoeman, Marvin Orie, Stephan Lewies, Carlu Sadie, Robbie Coetzee, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher, Nathan Mcbeth, Johannes Jonker, Wilhelm van der Sluys, Hacjivah Dayimani, Ross Cronjé, Franco Naude, Tyrone Green.