Print Page | Close Window

Die son skyn weer, sê Swys

Printed From: Lionsworld
Category: Lions Section
Forum Name: Union, Management and Coach discussions
Forum Description: Union, Management and Coach discussions
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7805
Printed Date: 08-May-2024 at 3:37pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Die son skyn weer, sê Swys
Posted By: Transvaal
Subject: Die son skyn weer, sê Swys
Date Posted: 26-Apr-2019 at 5:28am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/die-son-skyn-weer-se-swys-20190425" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/die-son-skyn-weer-se-swys-20190425

Die son begin weer skyn vir Swys de Bruin.

Die hoofafrigter van die Leeus se Super-rugbyspan, wat verlede week weens persoonlike redes die skokbesluit geneem het om uit Australasië na Suid-Afrika terug te keer, het Donderdag gesê dit gaan elke dag beter met hom.

De Bruin het die afgelope naweek onthul dat hy aan stres ly en dat dinge vir hom net te veel geraak het. Hy het op aanbeveling van die Leeus se spandokter, Rob Collins, huis toe gekom om hier te herstel.

Dit was vir hom ’n baie donker tydperk en met dinge wat op die veld skeefgeloop het en die verdedigingsafrigter, Joey Mongalo, wat aan onsedelike aanranding skuldig bevind is, het De Bruin hom as’t ware teen die spreekwoordelike muur vasgeloop.

“Ek kry baie goeie professionele hulp en ek glo ek sal eersdaags weer op my pos wees,” het De Bruin Donderdag gesê.

“Ek is gereeld in kontak met die span en die afrigters. Die beplanning en voorbereiding vir Vrydag se wedstryd (teen die Crusaders) het goed afgeloop. Die manne wat vir my instaan, doen baie goeie werk. Ek is trots op hulle,” het De Bruin gesê.

“Ek waardeer ook die ongelooflike ondersteuning van die mense daarbuite. Dit beteken ongelooflik baie vir my en my gesin,” sê hy.

Rudolf Straeuli, die uitvoerende hoof van die Leeus, het ook weer benadruk dat daar nie oorhaastige besluite oor De Bruin en sy toekoms geneem gaan word nie.

“Ons kry die beste professionele mediese hulp vir hom en hy sal geëvalueer word. Gelukkig het ons ook aanstaande week ’n loslootjie. Dit gee ons meer tyd om te sien hoe sake verloop en watter kant toe ons kan gaan,” het Straeuli gesê.

De Bruin sê dit is vir hom baie bemoedigend om in ’n tyd soos hierdie te sien hoeveel mense agter hom staan en hom steun.

Volgens hom is hy oorval met goeie wense. Dit is vir hom ’n riem onder die hart om te weet mense wil sien dat hy herstel en dat sake vir hom by die Leeus sal terugkeer na normaal.

Al is hy derduisende kilometers van sy spelers en diegene wat vir hom kosbaar is, is hy in hart en siel by hulle en sal hy Vrydagoggend vasgenael sit voor sy televisie om die Leeus aan te moedig teen die Crusaders.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net