Print Page | Close Window

Maties spog met 5de titel

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Varsity Cup
Forum Description: Varsity Cup
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7762
Printed Date: 28-Mar-2024 at 11:27am
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Maties spog met 5de titel
Posted By: Transvaal
Subject: Maties spog met 5de titel
Date Posted: 16-Apr-2019 at 5:32am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/varsitybeker-eindstryd-maties-spog-met-5de-titel-20190415" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/varsitybeker-eindstryd-maties-spog-met-5de-titel-20190415

Wéér kampioene! Die Maties het Maandagaand voor 20 000 passievolle ondersteuners in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch hul Varsitybeker-titel suksesvol verdedig deur hul tradisionele aartsvyand, Tuks, met 34-12 te verslaan.

Dit was ’n uitstekende vertoning deur die Maties, wat die vyfde keer die kampioen is. Hulle was klinies op die aanval, en puik op die verdediging en in die vaste fasette.

Met rustyd was die Maties welverdiend met 12-0 voor nadat hulle Tuks takties uitoorlê en die fisieke stryd by die afbreekpunte gewen het.

Hawies Fourie, die Maties se afrigter, kon nie vir ’n beter begin van sy span gevra het nie. Hulle het die bal uit die staanspoor sterk gedra en strafskoppe begin afdwing. Van die tweede strafskop is die bal in die hoek uitgeskop en het Johann van Niekerk in die vyfde minuut al van ’n lynstaandryf afgerond.

Tuks het hul kanse op die aanval gehad, maar is by ’n paar geleenthede gefnuik deur die Maties wat die bal by die afbreekpunte omgekeer het.

Die besoekers se skoptaktiek het ook veel te wens oorgelaat en hulle onakkurate en ondeurdagte gesool van die bal het sake vir die Maties vergemaklik.

Maties het by tye gesukkel teen Tuks se opskietverdediging, maar het deur Chris Smit se dinkwerk oor daardie hekkie geseil.

Hy het met ’n bietjie meer as ’n halfuur vir Munier Hartzenberg met ’n skopaangee agter die verdediging gevind om die Maties se tweede drie af te rond.

Dit het die Maties nie lank geneem om hul voorsprong in die tweede helfte te rek nie. Hulle het die bal deur talle fases naby Tuks se doellyn geneem voordat dit flink deur die hande is vir Van Niekerk om sy tweede drie af te rond.

Hierdie keer was dit ’n sewepuntdrie en ná Jordan Chait se doelskop was die telling 21-0 vir die Maties. Tukkies was nou tot inhaalrugby verdoem.

Maar gee die besoekers krediet. Hulle het hul ondeurdagte skopwerk van die eerste helfte gestaak en die bal effektief begin dra, met veral die reuse slot Marius Verwey wat die oog getref het. Die somtotaal van baie konstruktiewe spel was ’n drie in albei hoeke vir die blits Dewald Naudé.

Die wedstryd het in ’n oogwink vir Tukkies ’n verlore saak geraak toe hul heelagter, Vaughen Isaacs, met ’n kwartier oor ’n rooikaart gekry het vir ’n hoogvat op Brendon Nell.

Voor sy breinfloute was daar nog vir Tukkies ’n kans, maar met een man minder op die aanval en verdediging kon hulle maar vergeet.

Chait het deur ’n strafdoel die Maties se voorsprong weer na 12 punte laat rek voordat Hartzenberg ’n dolk deur Tukkies se harte gedruk het deur sy eie skoppie op te volg en te druk. Nou was dit 31-12 en met slegs 10 minute oor was die Pretorianers se doppie geklink.

* In die hoofvoorwedstryd het die Maties se Young Guns die Pukke in ’n riller-eindstryd met 32-22 verslaan.

Puntemakers:

Maties 34 (12): Drieë: Johann van Niekerk, Van Niekerk (sewepuntdrie), Munier Hartzenberg (2). Doelskoppe: Jordan Chait (3). Strafdoele: Chait (2).

Tuks 12 (0):Drieë: Dewald Naudé (2). Doelskop: Tinus de Beer.



Replies:
Posted By: AK 
Date Posted: 16-Apr-2019 at 7:41am
Hulle het dit verdien. Hele seisoen sonder om te verloor wil gedoen wees. Dink dit was ook baie spesiaal  vir hulle om te wen teen Tuks in die finaal. Goeie Noord vs Suid....


Posted By: Leeubok
Date Posted: 16-Apr-2019 at 8:01am
20 000 mense by varsity rugby maar op loftus was daar 6 000 die naweek..



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net