Print Page | Close Window

Besering kelder All Black-buks se WB-droom

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7760
Printed Date: 26-Apr-2024 at 1:30pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Besering kelder All Black-buks se WB-droom
Posted By: Transvaal
Subject: Besering kelder All Black-buks se WB-droom
Date Posted: 15-Apr-2019 at 2:11pm
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/besering-kelder-all-black-buks-se-wb-droom-20190415" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/besering-kelder-all-black-buks-se-wb-droom-20190415

Die opwindende veelsydige agterspeler Damian McKenzie se seer knie gaan hom uit vanjaar se Wêreldbeker (WB)-toernooi hou, terwyl Steve Hansen, afrigter van die All Blacks, waarsku nog spelers gaan waarskynlik weens beserings die rugbyskouspel in Japan misloop.

McKenzie het die naweek in die Chiefs se Superrugbywedstryd teen die Blues ’n ligament in sy regterknie geskeur. Hansen glo, gegewe die intensiteit van Nieu-Seelandse derbykragmetings, hy kan dalk nog spelers oor die volgende paar maande kwyt wees.

“Hy kan tot agt, nege maande buite aksie wees,” sê Hansen van McKenzie, wat 23 toetse vir die Kiwi’s gespeel het.

’n Groep van 41 All Blacks het Maandag bymekaargekom vir die eerste van twee oefenkampe in die aanloop tot die WB-toernooi.

“Dit is regtig hartseer vir hom om dit mis te loop. Hy is steeds jonk genoeg om waarskynlik in aanmerking te kom vir die volgende twee (WB-toernooie), so dit skep ’n geleentheid vir iemand anders,” sê Hansen.

“Ons moet beserings verwag en daar sal meer wees as net hy, glo ek, teen die tyd dat ons die finale groep vir die toernooi aanwys.”

Minstens nege All Blacks is tans op die krukkelys, maar Hansen sê die nuus oor twee van sy mees ervare spelers – die senter Sonny Bill Williams en flank Sam Cane – is belowend.

’n Knieoperasie kan Williams moontlik ses weke buite aksie hou, “maar baie mense herstel volkome van kraakbeenbeserings, so ons is nie bekommerd nie,” sê Hansen.

Cane het vandeesmaand weer aan ligte kontaksessies begin deelneem nadat hy in Oktober sy nek gebreek het teen die Springbokke in Pretoria.

Ander All Blacks wat tans Superrugby weens beserings misloop, sluit Owen Franks, Aaron Smith, Liam Squire, Luke Whitelock en Codie Taylor in, asook Waisake Naholo en George Bridge.




Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net