Print Page | Close Window

Tyrone sal Leeus X-faktor gee, sê De Bruin

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7655
Printed Date: 29-Mar-2024 at 1:48am
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Tyrone sal Leeus X-faktor gee, sê De Bruin
Posted By: Transvaal
Subject: Tyrone sal Leeus X-faktor gee, sê De Bruin
Date Posted: 15-Mar-2019 at 8:46am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/tyrone-sal-leeus-x-faktor-gee-se-de-bruin-20190314%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/tyrone-sal-leeus-x-faktor-gee-se-de-bruin-20190314

Ná 44 agtereenvolgende wedstryde in die Leeus se beginspan sal Andries Coetzee Saterdag aanvanklik van die plaasvervangersbank af dophou wat sy spanmaats teen die Rebels doen.

Maar daar is by die Leeus se breintrust geen kommer dat die man wat die 15-trui oorvat nie die mas sal opkom nie.

Nadat hulle verlede week vyf melkbaarde teen die Jaguares ingespan het, het Swys de Bruin-hulle besluit om hierdie naweek ’n sesde op Superrugby los te laat, in die vorm van die 21-jarige Tyrone Green.

Green is ’n produk van Jeppe en het die Leeus op o.19- en o.21-vlak verteenwoordig. Die Leeus se agterlynafrigter, Neil de Bruyn, sê hulle sal hom Saterdag met ’n geruste hart inspan.

“Hy is ’n opwindende speler wat Saterdag entoesiasme en die X-faktor na die span sal bring. Die jong spelers wat verlede week hul kans gekry het, het baie goed gedoen, en ons glo Tyrone sal ook.”

De Bruin het verduidelik dat Green in Coetzee se plek gekies is as deel van die Leeus se rotasie-beleid. “Andries word beslis nie gepos nie. Hy het nou vier harde wedstryde agter die rug en hy het ’n sleutelrol daarin gespeel, so ons het besluit om sy las die naweek te verlig,” het hy gesê.

Green sal sy vuurdoop in die agterste driehoek darem in die geselskap van twee pare ou hande maak, met Ruan Combrinck terug op regtervleuel en Courtnall Skosan soos verlede week in die nr. 11-trui.

In die middelveld kry die 20-jarige Wandisile Simelane en 22-jarige Franco Naudé weer kans om hul staal te wys, nadat hulle verlede week uitmuntend gevaar het teen die Jaguares. Lionel Mapoe is op die bank.

Met drie groentjies steek die Leeus-agterlyn wat ervaring betref sleg af teen dié van die Rebels, wat in die skakelpaar Will Genia en Quade Cooper, en heelagter Dane Haylett-Petty vaardige blitse met geleerde skopskoene het.

De Bruin is egter vinnig om te herinner dat die Leeus-skakelpaar van Elton Jantjies en Ross Cronjé nie ’n aks vir die Rebels s’n hoef terug te staan nie.

“Ons het darem self ’n 9 en 10 wat weet hoe om ’n wedstryd te bestuur,” sê hy. “Ons besef daar kan dalk ’n skopstryd wag, en dis in enige wedstryd belangrik om jou skopplan goed uit te voer.

“Maar om 15:00 op ’n Saterdagmiddag op hierdie vinnige Ellispark-veld gaan ons waarskynlik ook heelwat hardlooprugby sien, waarvoor ons spelers meer as opgewasse is.”

Waar die Leeus se nuwe heelagter ’n paar hoë skoppe kan verwag, ly dit ook min twyfel dat die Rebels die Leeus se ligte pak gaan teiken.

Die Australiërs het ’n paar swaar manne in hul agttal ingesluit – iets wat die Leeus se voorspeler-afrigter, Philip Lemmer, nie in die minste verras nie.

“Ek dink ons het by verre die ligste en kortste pak in die kompetisie, so dis verstaanbaar dat spanne ons daar sal probeer aanvat. Ons het natuurlik ook verlede week gesukkel om rolmale te verdedig, so die Rebels kan dit sien as ’n swakplek wat uitgebuit kan word. Ons is nie bekommerd daaroor nie. Ons het dalk ’n klein pak, maar in die skrums staan ons nie terug nie. En ons het vir Marvin Orie terug. Hy sal honger wees om te speel en goeie leierskap en meer gewig in die skrum bring. Rolmale is een van sy sterkpunte en ook iets waaraan ons almal die week hard gewerk het, so ons glo dit sal beter gaan daarmee.”

Orie het herstel van ’n liesbesering en sal saam met Stephan Lewies die slotpaar vorm. Rhyno Herbst en Ruan Vermaak, verlede week se slotpaar, is albei op die bank.

Die haker Jan-Henning Campher kan moontlik in die tweede helfte van die bank af sy Superrugby-buiging maak.

Leeus: Tyrone Green, Ruan Combrinck, Wandisile Simelane, Franco Naude, Courtnall Skosan, Elton Jantjies, Ross Cronée, Kwagga Smith, Vincent Tshituka, Marnus Schoeman, Stephan Lewies, Marvin Orie, Carlu Sadie, Malcolm Marx (k), Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher, Sti Sithole, Frans van Wyk, Rhyno Herbst, Ruan Vermaak, Gianni Lombard, Lionel Mapoe, Andries Coetzee.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net