Met hul Superrugby-toekoms wat skynbaar aan ’n dun draadjie hang, het die Sunwolves hul ondersteuners gevra om hul voortbestaan die naweek by hul tuiswedstryd teen die Reds te help bepleit.
Die Japannese het hul ondersteuners gevra om boodskappe van ondersteuning te skryf op ’n reuse-trui by dié Tokio-wedstryd, om Superrugby se beheerliggaam, Sanzaar, van hul waarde in dié kompetisie te bepleit.
Sanzaar gaan die toekoms van Superrugby in die komende dae by Wêreldrugby-vergaderings in Dublin, Ierland, bespreek – en dit klink al meer asof daar beplan word om die Sunwolves uit die reeks te boender.
“Ons vra julle almal om saam met ons te stap op ons taai en onduidelike reis vorentoe. Die span en spelers maak die toekoms van Japannese rugby,” het die Sunwolves op hul webtuiste aan hul ondersteuners geskryf.
In dié verklaring word daar ook benadruk dat seges op die veld “die waarde van die Sunwolves in Superrugby sal bewys”.
Die Sunwolves was tot dusver hierdie seisoen indrukwekkend, ondanks die enkele oorwinning agter hul naam.
Benewens hul onvoorsiene sege oor die Chiefs in week 3 (hul eerste wegsege tot nog toe), het die Japannese met net ’n punt teen die Waratahs verloor. Verlede week teen die Blues was hulle mededingend, maar het swak dissipline hulle duur te staan gekom.
’n Sege Saterdag oor die Reds – wat nog nie hierdie seisoen gewen het nie – sal goud werd wees vir die Sunwolves.
Die feit dat Japan later vanjaar die Wêreldbeker-toernooi sal aanbied, word deur Wêreldrugby as ’n bewys van groei in die sport bestempel. Daar sal dus ’n reukie van teenstrydigheid hang as die Sunwolves wel hul Superrugby-speelreg verloor.
“Die Sunwolves het regtig gehelp om nuwe rugbyondersteuners in Japan te kweek,” het Rich Freeman, ’n rugbyskrywer van die Kyodo News, Donderdag aan Reuters gesê.
“As die Wêreldbeker ’n groot toename in rugbyondersteuners in Japan gaan meebring, wat word van hulle as daar geen Sunwolves is nie? Waarheen moet hulle dan gaan?”
Sedert die Sunwolves in 2016 by Superrugby aangesluit het, het Japan se nasionale span gemaklike seges oor Italië en Tonga behaal en in Parys teen Frankryk gelykop gespeel.
“Jy het gereelde kompetisie nodig om op die hoogste vlak mee te ding,” sê Freeman. “Een ding wat die Japannese span verbeter het, is sy sielkundige benadering tot rugby omdat die spelers nou elke week op ’n hoë vlak speel.
“(Japan se kaptein) Michael Leitch sê die gelykop uitslag teen Frankryk in Parys is juis te danke daaraan.”
Die Sunwolves het die Reds met 63 – 28 verneder toe die Australiërs laas in Tokio was en gaan Saterdag se wedstryd as die gunsteling binne.
Die Reds is sonder die Wallabies Taniela Tupou en Izack Rodda, wat op versoek van Rugby Australië ’n ruskans kry.
Albei spanne sal die naweek met nuwe losskakels speel. Isaac Lucas dra die Reds se nr. 10-trui in die plek van die beseerde Bryce Hegarty, terwyl Hayden Parker (wat ’n skepdoel verbrou het wat sy span van ’n sege oor die Waratahs sou verseker) terug op losskakel vir die Sunwolves is.
Amanaki Mafi, oor wie se kop die swaard van ’n aanrandingsklag in Nieu-Seeland steeds hang, is op die Sunwolves se plaasvervangersbank.