Print Page | Close Window

Leeus blaas Jaguares weg op Ellispark

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7624
Printed Date: 11-May-2024 at 5:41pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Leeus blaas Jaguares weg op Ellispark
Posted By: Transvaal
Subject: Leeus blaas Jaguares weg op Ellispark
Date Posted: 10-Mar-2019 at 7:06am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/leeus-blaas-jaguares-weg-op-ellispark-20190309%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/leeus-blaas-jaguares-weg-op-ellispark-20190309

Alle gerugte van die Leeus se heengaan, is erg oordrewe.

Dit was Saterdagmiddag op Ellispark duidelik, terwyl die Leeus met skerp tande en kwetsende kloue maalvleis van Argentinië se Jaguares gemaak het.

So platpoot en planloos soos die Johannesburgers verlede week teen die Bulle was, so giftig en gulsig was hulle vir die grootste deel van Saterdag se wedstryd. Die wentelling van 47-39 dui ’n skrale wenmarge van net agt punte aan, maar dit vlei die Jaguares, wat met twee drieë in die laaste twee minute ’n tikkie aansien aan hul telling gegee het.

Daar is heelwat wenkbroue gelig oor die bandeloosheid waarmee Swys de Bruin die afgelope week die snoeiskêr vir hierdie wedstryd ingelê het, met sewe jongelinge wat amper van nêrens na die 23-tal gelanseer is.

Duidelik het De Bruin geweet wat die res van ons nie weet nie. Die melkbaarde het hom met oorgawe bedank.

Niemand het op die dag meer vonke laat spat as die 20-jarige buitesenter, Wandisile Simelane, nie. Benewens ’n drie ná ’n yslike vaartversnelling het hy ook ’n hele handvol ander flukse lopies ingekry en gewys hy is propvol rugby.

Die jong blits het verlede jaar die drieë ingeryg vir die Junior Bokkies en lyk honger om dieselfde vir die Leeus te doen. Hy kan skop, hy kan têkkel en as hy sy turbo-knoppie indruk, kan hy ook die spoedmeter hoog opdruk. Hy was telkens ’n handvol met die bal in die hand.

Ewe indrukwekkend was die nuwe nr. 7-flank, Vincent Tshituka, wat glad nie bang was om sy lyf op die spel te plaas nie. Hy was vol ondernemingsgees op die aanval én die verdediging (een van sy eerste duikslae het op ’n strafskop vir die Leeus uitgeloop) en kan nog baie waardevol wees vir ’n span wat kan doen met ekstra spierkrag in die lostrio.

Die plaasvervanger-heelagter, Gianni Lombard, het sommer met sy eerste proesel besit gewys daar is vlerke aan sy voete, terwyl die nuwe binnesenter, Franco Naudé, goed versprei het.

Dit was egter nie net die jongelinge wat met geesdrif onder die Jaguares se velle ingeklim het nie. Die Leeus-losskakel, Elton Jantjies, het sy span se eerste agterspeler-drie van 2019 gedruk én twee ander drieë met slim skoppies geskep. Tshituka se meer ervare lostrio-maats, Kwagga Smith en Marnus Schoeman, is elkeen met ’n vyfpunter beloon vir harde werk in die los. En die voorspelers het nie net albei die Jaguares se eerste skrums afgevat nie, maar heeldag lank met brute krag gerolmaal en op die voorvoet geboer.

Ná verlede Saterdag, toe die Leeus met net ’n piep op die Bulle se luide brul kon antwoord, is gewonder of die Johannesburgers se drie jaar van heerskappy in die Suid-Afrikaanse konferensie vanjaar glorieloos gaan eindig.

Daardie vraag kan nog nie met ’n besliste nee beantwoord word nie. Maar ’n ja voel nou ook meer onwaarskynlik.

* Puntemakers:

Leeus 47 (26): Drieë: Rhyno Herbst, Elton Jantjies, Kwagga Smith, Wandisile Simelane, Marnus Schoeman, Courtnall Skosan (2). Doelskoppe: Jantjies (5).

Jaguares 39 (13): Drieë: Ramiro Moyano, Julian Montoya (2), Gaspar Baldunciel, Matiaz Moroni, Joaquin Tuculet. Doelskoppe: Joaquin Diaz Bonilla, Juan Cruz Mallia (2). Strafdoel: Diaz Bonilla.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net