Print Page | Close Window

Nuwe besems móét skoon vee op Ellispark

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7622
Printed Date: 19-May-2024 at 9:16am
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Nuwe besems móét skoon vee op Ellispark
Posted By: Transvaal
Subject: Nuwe besems móét skoon vee op Ellispark
Date Posted: 09-Mar-2019 at 11:51am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/nuwe-besems-moet-skoon-vee-op-ellispark-20190308%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/nuwe-besems-moet-skoon-vee-op-ellispark-20190308

Mei 2014 – byna vyf jaar gelede.

Voor die afgelope week was dit die laaste keer wat die Lions die onderste posisie in Superrugby se Suid-Afrikaanse konferensie beklee het.

Daar was egter toe versagtende omstandighede: Die Johannesburgers was in hul eerste seisoen terug in Superrugby ná ’n jaar in die wildernis en daar was oral tekens van nuwe bloeisels aan hul boom.

Saterdag, wanneer die Leeus in Johannesburg gasheer speel vir Argentinië se Jaguares, tree hulle weer aan as die onderste span op die Suid-Afrikaanse punteleer. Hoedanig die bloeisels dié keer gaan bot, behoort veel duideliker ná dié katgeveg te wees, met ’n hele rits jongelinge wat nou toevertrou word met die herrysing van die beleërde span.

Nadat hulle in die eerste week van die kompetisie vir die eerste keer ooit met die Jaguares in Argentinië afgereken het, was daar groot optimisme dat die Leeus weer eens die Suid-Afrikaanse span sal wees om te klop in vanjaar se reeks. Toe word die Leeus egter op Nuweland teen die Stormers gepootjie deur ’n gebrek aan kalmte in die doodsnikke en ’n week later word hulle op Ellispark fisiek, takties en in die lug oordonder deur ’n giftige Bulle-span.

Die gevaarligte flikker nou helder.

Tog het die Leeus se afrigter, Swys de Bruin, Donderdag beklemtoon dat daar geen paniek by Ellispark is nie.

Die agt veranderings aan die beginspan (waarvan een posisioneel) lyk soos benoude spronge deur ’n benoude kat, maar volgens De Bruin is dit eerder gedoen om spelers wat hand by die oefeninge opgesteek het, te beloon.

“Ons het eers ná die 80ste minuut op Nuweland verloor, nadat ons die afgelope twee jaar met 19-19 gelykop gespeel en met 23-20 gewen het. Daar moenie te veel (in daardie nederlaag) gelees word nie.

“Verlede week het ons ons vasgeloop teen ’n Bulle-span wat gewys het hoe om ’n teenstander dood te smoor. Hulle het ’n goeie ruggraat, ’n ervare ruggraat met twee Springbok-skrumskakels.

Jy kan nie te veel stilstaan by een uitslag nie; ek het dit al vroeg in my loopbaan geleer.

“So, dis die storie. Nou gaan ons vorentoe. Jy kan nie te veel stilstaan by een uitslag nie; ek het dit al vroeg in my loopbaan geleer. Dis ’n doodskoot om te lank te tob oor een wedstryd,” het De Bruin Donderdag gesê.

“Ek gebruik graag gholfterme, so: as ek begin met ’n syfer, ’n syfer en ’n dubbele brouhou, is dit tyd om weer te kyk na voëltjies.”

Die stokke waarmee De Bruin daardie voëltjie Saterdag wil behaal, sluit ’n hele paar oningewydes in. Die nuwe senterpaar van Wandisile Simelane en Franco Naudé is onderskeidelik 20 en 22 en het tussen hulle slegs 64 minute se Superrugby agter die blad.

Die nuwe nr. 7-flank, Vincent Tshituka, die 4-slot Ruan Vermaak en die plaasvervangerhaker Nathan McBeth is almal 20 en die plaasvervangerflank James Venter 22.

Wat hulle volgens De Bruin bring, is jeugdige entoesiasme en nuwe energie. In Naudé en Tshituka is daar boonop toevoegings wat die voordeellyn met brute krag kan aanval.

Daar is natuurlik ook die gevaar van jeugdige voortvarendheid, iets wat ervare spelers soos Malcolm Marx (in net sy tweede wedstryd as Leeus-kaptein), Elton Jantjies, Ross Cronjé en Kwagga Smith hopelik gou in die kiem kan smoor.

Swak dissipline sal die span immers ferm op die agtervoet plaas.

Die keersy geld ook. Met goeie dissipline kan die druk gelaai word op ’n Jaguares-span wat homself soms in die voet skiet deur die reëls te probeer buig.

Sy afrigter, Gonzalo Quesada, het ’n yslike elf veranderinge gemaak aan die span wat verlede week met die Blues afgereken het, maar daar is steeds 22 internasionale spelers in sy 23-tal. Dié is geen groep groentjies nie.

Die ou spreekwoord lui nuwe besems vee skoon. Dit móét Saterdag vir die Leeus geld om die rooi ligte wat tans op Ellispark flikker, af te skakel.

Leeus: Andries Coetzee, Sylvian Mahuza, Wandisile Simelane, Franco Naudé, Courtnall Skosan, Elton Jantjies, Ross Cronjé, Kwagga Smith, Vincent Tshituka, Marnus Schoeman, Rhyno Herbst, Ruan Vermaak, Carlü Sadie, Malcolm Marx (k), Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Pieter Jansen, Nathan McBeth, Frans van Wyk, Stephan Lewies, James Venter, Dillon Smit, Harold Vorster, Gianni Lombard/Tyrone Green.

Jaguares: Joaquín Tuculet (k), Sebastián Cancelliere, Matías Moroni, Bautista Ezcurra, Emiliano Boffelli, Joaquín Díaz Bonilla, Martín Landajo, Rodrigo Bruni, Marcos Kremer, Juan Manuel Leguizamón, Matías Alemanno, Guido Petti Pagadizábal, Enrique Pieretto, Julián Montoya, Juan Pablo Zeiss. PLAASVERVANGERS: Gaspar Baldunciel, Santiago García Botta, Santiago Medrano, Tomás Lavanini, Tomás Lezana, Tomás Cubelli, Juan Cruz Mallia, Matías Orlando.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net