Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, meen vanjaar se transformasie-teiken van 50% gekleurde spelers in sy span is haalbaar sonder dat hy in ’n Wêreldbeker-jaar op gehalte hoef in te boet.
“Ons het verlede jaar beter met transformasie gevaar. Daar is geleenthede vir nuwe spelers geskep en Aphiwe Dyantyi het ’n prys by Wêreldrugby gekry vir sy deurbraak-jaar, so daar is baie positiewe dinge, al het ons nie die teiken van 45% gehaal nie,” het Erasmus Dinsdag op ’n nuuskonferensie in Nuweland gesê.
“Hierdie jaar is die persentasie 50% en ek dink ons moet duidelik wees dat dit ’n gemiddeld van 50% in die 23-tal oor die gang van die jaar is en nie vir elke toets individueel geld nie.
“Ek dink met die blootstelling wat ons spelers verlede jaar gegee het, sal ons daarby kan uitkom. Dis waarom ons verlede jaar daardie ekstra wedstryd teen Wallis (in Washington) gehad en proefnemings gedoen het. Ons het dit gedoen met die wete dat ons ’n groter groep spelers gaan hê om uit te kies.”
Ondanks die feit dat Suid-Afrika se Superrugby-spanne nie tans aan die kwota-teiken van 50% voldoen nie, meen Erasmus transformasie is wel besig om daar gestalte te vind.
Hy het spesifiek verwys na die deurbraak wat Aphelele Fassi op heelagter by die Haaie maak en dat die Leeus danksy hul diepte selfs al vir Dyantyi op die plaasvervangersbank kon kies.
“Daar is soveel positiewe dinge wat gebeur. Ja, ek dink dit kan uitdagend raak as daar beserings is (aan gekleurde spelers), maar ek dink met die groep spelers tot ons beskikking kan ons die teiken bereik,” sê Erasmus.
Hy sê ook hy is “70 tot 80%” seker van die groep wat hy vir vanjaar se WB-toernooi wil kies. Die rasteiken beteken ook nie dat daar minstens 16 gekleurde spelers in sy groep van 31 hoef te wees nie.
Ja, ek dink dit kan uitdagend raak as daar beserings is (aan gekleurde spelers), maar ek dink met die groep spelers tot ons beskikking kan ons die teiken bereik.
“Dit kan 12, 13 of selfs 17 wees afhangend van spelers se spelpeil. Ons het die gemiddeld van 50% oor die gang van die jaar in gedagte,” sê hy.
Ondanks daardie vereiste beplan Erasmus om sy sterkste moontlike spanne vir die toetse in die Rugbykampioenskap te kies.
Die Bokke skop af met ’n toets teen Australië op Ellispark en speel daarna in Nieu-Seeland en Argentinië. Daarna volg ’n vriendskaplike toets teen Argentinië voordat die Bokke hul laaste toets voor die WB-toernooi teen Japan speel.
“Ons wil bitter graag die Rugbykampioenskap wen, so sal ons spanne met daardie doelwit kies,” sê Erasmus.
“Soos sake staan, sien ons daardie eerste wedstryd teen Australië as geweldig belangrik. Die een in Wellington (teen die All Blacks) is ook belangrik en kan ons stemming op pad Japan toe bepaal. Die toets teen Argentinië kan dalk bepaal of ons die Rugbykampioenskap gaan wen.”
Die vriendskaplike toets teen die Poemas is die enigste een voor die WB-toernooi waar Erasmus glo hy sy kaarte kan skommel.
Erasmus sal ’n span uit die groep van 31 vir die WB-toernooi kies vir die toets teen Japan in Kumagaya.
“Teen daardie tyd is ons reeds op pad WB-toernooi toe. Ons gaan waarskynlik ons beste span teen Japan kies omdat ons twee weke later ons eerste groepwedstryd teen die All Blacks speel. Dit sal ’n kleedrepetisie vir die wedstryd teen die All Blacks wees,” sê hy.