Print Page | Close Window

Wallabies volg nie Bokke se voorbeeld

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Rugby Championship (Sanzaar)
Forum Description: Rugby Championship (Sanzaar)
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7548
Printed Date: 23-Apr-2024 at 5:45pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Wallabies volg nie Bokke se voorbeeld
Posted By: Transvaal
Subject: Wallabies volg nie Bokke se voorbeeld
Date Posted: 26-Feb-2019 at 1:45pm
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/wallabies-volg-nie-bokke-se-voorbeeld-20190226%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/wallabies-volg-nie-bokke-se-voorbeeld-20190226

Die Aussies sal nie Suid-Afrika se voorbeeld volg en beperkings op oorsese spelers wat die land verteenwoordig, skrap nie, sê Raelene Castle, Rugby Australië (RA) se uitvoerende hoof.

Die rugbymoondhede in die Suidelike Halfrond verloor die stryd teen oorsese geldeenhede en het die afgelope jare verskeie reëls daargestel in ’n poging om hul toetsspanne mededingend te hou.

Suid-Afrika se reël dat slegs spelers wat 30 of meer toetse vir die Bokke gespeel het van oorsese klubs af gekies mag word, is die naweek formeel geskrap. Dit is in 2017 ingestel, maar dit kon nie die uittog van spelers stuit nie.

Australië het voor die vorige Wêreldbekertoernooi in 2015 ’n soortgelyke maatstaf, die sogenaamde Giteau-reël wat spelers vereis om ’n minimum van 60 toetse te speel, ingestel en Castle sê dit werk goed.

“Ons is baie gelukkig met die uitkomste,” sê sy.

“Die Giteau-reël word gereeld hersien om te verseker dit voldoen aan die uitkomste waarvoor ons dit ingestel het en ons is tevrede.

“As jy 60 toetse vir jou land gespeel het, verdien jy die kans om ander geleenthede te oorweeg, terwyl jy ook die volwassenheid en vlak van professionaliteit bereik het waar jy kan terugkeer na die Wallaby-omgewing en dadelik inpas.

“Ons voel as ons die kerf verminder, staan ons ’n kans om ’n klomp talent te verloor wat tans hier Superrugby speel.

“En Superrugby is ook vir ons baie belangrik want ons wil verseker ons vier spanne vertoon goed in die reeks.”

Michael Cheika, afrigter van die Wallabies, was deurslaggewend in die instelling van die Giteau-reël en het dadelik gebaat met die toevoeging van ervare agterspelers soos Matt Giteau en Drew Mitchell in sy groep vir die skouspel in 2015.

Australië het die eindstryd in Engeland gehaal, maar sukkel sedertdien om vertroue by hul ondersteuners in te boesem dat hulle ’n derde Wêreldbekertitel kan verower.

Daar was darem ’n klompie positiewe tekens in die eerste twee weke van die nuwe Superrugbyseisoen, terwyl die gehalte spelers wat beskikbaar word sou Australië sy beperkings skrap, nie naastenby so goed soos vier jaar gelede is nie.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net