Vir baie mense is dit ’n verrassing dat die Superrugbyspan van die Haaie veral op sosiale media as die gunsteling vir sy kragmeting Saterdag met die Blues in Durban beskou word.
Die Blues is immers ’n Nieu-Seelandse span, met groot name soos Sonny Bill Williams en Rieko en Akira Ioane in hul geledere. Hulle het boonop verlede week so byna vir ’n opskudding teen die verdedigende kampioene, die Crusaders, gesorg.
Maar die volgende stukkie statistiek sal Haaie-ondersteuners smalend laat glimlag: In dié spanne se laaste 12 kragmetings, was die Haaie 11 keer aan die wenkant.
Die Durbaniete het die Aucklanders boonop twee keer in hul laaste drie kragmetings in Nieu-Seeland getroef.
Die laaste keer dat die spanne mekaar in Durban die stryd aangesê het, in 2013, het die Haaie met 22-20 gewen.
Die geskiedenis is dus aan die Haaie se kant. Hulle is ook gretig om hul puik vertoningslys teen Nieu-Seelandse spanne van verlede jaar, toe hulle drie uit vier kragmetings teen Kiwi-spanne gewen het, voort te sit.
Vir dít om te gebeur, moet al die cliché-bestanddele Saterdag teenwoordig wees – voorlangse oorheersing, rotsvaste vaste fasette en die kliniese benutting van geleenthede.
’n Paar sleutel-tweestryde is ook op die spyskaart, met Williams en André Esterhuizen se middelveld-stryd seker die opwindendste.
Williams is die koning van die drukaangee, terwyl dít ook ’n pyl is wat die sterke Esterhuizen verlede jaar tot sy koker gevoeg het.
Esterhuizen kry die Haaie op die voorvoet en albei dié spelers geniet dit om fisiek te wees.
Robert du Preez jr., die span se losskakel, maan egter daarteen om té veel na die teenstander te kyk.
“Ons het meer as genoeg in ons arsenaal om dít waarmee hulle vorendag gaan kom, te hanteer. Veral teen ’n span met groot name (soos Williams) is dit belangrik om net op jou eie planne te konsentreer,” sê die losskakel.
Tog kan tweestryde bepalend tot die uitslag van die wedstryd wees. Die vleuelstryd tussen die Springbok Sbu Nkosi en die All Black Rieko Ioane beloof ook vuurwerk. Ditto Dan du Preez en Akira Ioane se agtsteman-stryd.
Robert du Preez sr., die Haaie-breier, besef egter die Blues is ’n ander gedierte as die span wat die Durbaniete verlede jaar met 63-40 in Auckland geklop het.
“Die Blues is ’n formidabele span, ons het gesien hoe goed hulle teen die Crusaders gespeel het,” sê die breier.
“Die toestande gaan moeilik wees, dit gaan warm en bedompig wees. Dit behoort ons te help, want dit is ons eie toestande.”
* Haaie: Aphelele Fassi, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Makazole Mapimpi, Robert du Preez,
Louis Schreuder (k), Dan du Preez, Tyler Paul, Jacques Vermeulen, Ruan Botha, Hyron Andrews, Coenie
Oosthuizen, Akker van der Merwe, Beast Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Kerron van Vuuren, Juan
Schoeman, Thomas du Toit, Gideon Koegelenberg, Phepsi Buthelezi, Cameron Wright, Jeremy Ward,
Curwin Bosch.
* Blues: Melani Nanai, Caleb Clarke, TJ Faiane, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Otere Black, Jonathan
Ruru, Akira Ioane, Dalton Papalii, Tom Robinson, Josh Goodhue, Patrick Tuipulotu (k), Ofa Tu’ungafasi,
James Parsons, Karl Tu’inukuafe. PLAASVERVANGERS: Matt Moulds, Alex Hodgman, Sione Mafileo,
Gerard Cowley-Tuioti, Matt Matich, Augustine Pulu, Harry Plummer, Tanielu Tele’a.
* Skeidsregter: Paul Williams (NS). Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni en Griffon Colby (albei SA). TV-skeidsregter: Marius Jonker (SA). Afskop: 15:05 op SS 1.