Print Page | Close Window

Sergeal moet Leeus help tem

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7500
Printed Date: 14-May-2024 at 6:54pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Sergeal moet Leeus help tem
Posted By: Transvaal
Subject: Sergeal moet Leeus help tem
Date Posted: 19-Feb-2019 at 8:15pm
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/sergeal-moet-leeus-help-tem-20190219%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/sergeal-moet-leeus-help-tem-20190219

Ondersteuners van die Stormers wag nou al meer as ’n seisoen vir Sergeal Petersen se buiging in die Superreeks en daardie dag gaan moontlik Saterdag teen die Leeus op Nuweland uiteindelik aanbreek.

Dawie Snyman, glo die span se agterlynafrigter (Kaapse rugbybase het nou nog nie die Stormers se bestuurspan bevestig nie), het onthul dat dié blits, Cobus Wiese (flank/slot) en Frans Malherbe (vaskopstut) van hul beserings herstel het.

Dis nog onduidelik of die bielie-agtsteman Juarno Augustus by hulle sal aansluit. Die Bok-slot Eben Etzebeth bly nog vir eers langs die kantlyn.

Petersen, verlede seisoen se Curriebeker-speler van die Jaar ná sy heldedade vir die Westelike Provinsie, was in 2018 vir die hele Superreeks op die krukkelys.

Die verwagting is dat hy vandeesweek vir JJ Engelbrecht of SP Marais in die beginspan sal vervang. Engelbrecht gaan waarskynlik sy plek kwyt wees, omdat Marais die Stormers se aangewese stelskopper is.

Petersen se vaardighede en vaart kan die Stormers dalk ’n bietjie meer slaankrag agter gee, maar om dit te ontsluit, sal hulle in ander aspekte aansienlik moet verbeter. Hul treurmare in die lynstane was die grootste probleem in die afgelope naweek se vernedering van 40-3 teen die Bulle op Loftus Versfeld.

“Die lynstane is ’n afdeling wat ons as span geïdentifiseer het om op te knap. Teen die Bulle het ons daar te veel besit op die aanval afgestaan. Dit het ons energie getap, maar ons het ook nie genoeg met die besit gedoen toe ons wel in die tweede helfte ons bal in die lynstane gewen het nie,” sê Snyman.

Die Springbok-haker Bongi Mbonambi, wie se ingooiwerk nie op standaard was nie, sal veral onder druk wees teen die Leeus. Snyman sê die Stormers se voorhoede moet kollektief verantwoordelikheid vir die lynstaanprobleme neem eerder as om die skuld op individue te pak.

“Daar was probleme met die lynstaantekens, ingooie en spelers wat nie reg opgetel is nie. Ons moet as ’n eenheid verbeter,” sê hy.

Dis onwaarskynlik dat Wiese bo Pieter-Steph du Toit as nr.7-flank gekies sal word, maar hy is ’n opsie op nr.4-slot of as ’n veelsydige voorspeler op die plaasvervangersbank.

Malherbe sal ’n welkome toevoeging tot die 23-tal wees, want dit sal die Stormers in staat stel om die druk enduit op die Leeus in die vaste skrums te plaas.

Volgens Snyman het die spelers en afrigters almal selfondersoek gedoen ná die nederlaag teen die Bulle.

“Ons is beslis teleurgesteld oor hoe ons onder druk gereageer het. Dit was net een van daardie dae waar een fout op die ander gevolg en ons in ’n groef verval het. Hierdie is die perfekte wedstryd om die skip om te keer.”



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net