Print Page | Close Window

Jake jag Gert

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Club Rugby
Forum Description: Club Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7420
Printed Date: 29-Mar-2024 at 12:41am
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Jake jag Gert
Posted By: Transvaal
Subject: Jake jag Gert
Date Posted: 10-Feb-2019 at 6:09am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/jake-jag-gert-20190209%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/jake-jag-gert-20190209

Gert Smal gaan hom heel moontlik by Jake White in Japan aansluit te midde van binnegevegte in die Westelike Provinsie wat dreig om die trotse en magtige unie uitmekaar te skeur.

Met die vonke wat die afgelope week in die raadsale by Nuweland bly spat het deurdat die WP se amateurkant en sy sakevleuel mekaar aan die keel beet het, het Smal volgens Rapport se inligting besluit om hom as voorspelerafrigter by White se Japanse kampioenspan, Toyota Verblitz, aan te sluit. Smal, een van die land se mees gerespekteerde rugbymanne, se kontrak met die WP eindig in Oktober.

Die oud-Springbok het ook twee aanbiedinge gekry uit Europa, waar hy destyds as een van Ierland se hulpafrigters naam gemaak het. ’n Goeie verhouding bestaan egter tussen White en Smal met Smal wat van 2004 tot 2007 een van White se hulpafrigters by die Springbokke was.

Aan Rapport is ook gesê dat dit hoogs onwaarskynlik is dat Paul Treu, gewese afrigter van die Blitsbokke wat ook nog verlede jaar deel van die afrigterskorps op Nuweland was, in Smal se pos as die WP se direkteur van rugby aangestel sal word. Veral die WP se sakevleuel sal so ’n aanstelling teenstaan.

Zelt Marais, president van die WP, en sy ondersteuners se plan om vir Treu ’n pos as bestuurder van hoëprestasie en innovasie te skep, kry ook by Smal én die sakevleuel die wind van voor.

Marais is in ’n magstryd gewikkel om alle gesag oor die aanstelling van afrigters en die kontrakte van spelers by die sakevleuel weg te vat en onder sy beheer as president te vestig.

Die WP-president het egter Vrydag sy rieme styfgeloop in sy poging om dié gesag oor te neem toe die bestuur op ’n vergadering besluit het om die status quo te handhaaf en die aanstelling van afrigters en die spelerskontrakte as pligte van die uitvoerende hoof, Paul Zacks, te hou, berig Brenden Nel.

Volgens Rapport se inligting was daar ’n hewige debat oor dié kwessies.

Aan Rapport is ook gesê dat die borge en selfs SA Rugby hul stem dik gemaak het om te verseker dat goeie korporatiewe bestuur toegepas word en die ongelukkigheid onder die WP se spelers bygelê word.

Buiten dat WP Rugby dié week oor Treu se toekoms by die unie sal besluit, sal die Kaapse rugbybase ook met die spelers beraadslaag oor die pad vorentoe.

Rapport verneem dat Marais ’n klousule in die grondwet wou gebruik om beheer oor die kontrakte oor te neem en die sakevleuel se gesag oor die spelers en afrigters te beëindig.

Verskeie van Rapport se bronne het die afgelope week gesê die binnegevegte het te make met Marais se standpunt dat daar net een struktuur vir WP Rugby behoort te wees en dat daardie struktuur onder die president moet val.

Dit sal beteken dat die kundigheid van WP Rugby se sakevleuel sal wegval. Die sakevleuel gee egter nie bes oor sy magte en pligte nie en dit het nou tot groot konfrontasie tussen die amateur- en die sakevleuel gelei.

Treu, wat midde-in die warboel in WP Rugby staan, behoort vroeg volgende week duidelikheid oor sy verdere rol in WP Rugby te kry. Dit volg ná ’n vertrouensbreuk tussen hom, van die spelers en sekere afrigters.

Die Treu-kamp meen die verskille tussen die gewese Blitsbok-breier en die gegriefde spelers en afrigters is nie so erg nie en kan oorbrug word.

Treu is nie vanjaar by die Stormers betrokke nie. Hy is ook nie die gunsteling om Robbie Fleck volgende jaar as die hoofafrigter van die Stormers te vervang nie. John Dobson word as Fleck se aangewese opvolger beskou. Peter de Villiers se naam is ook vroeër as ’n moontlike opvolger vir Fleck genoem.

Treu geniet volgens Rapport se inligting steun by Marais en die amateurkant, terwyl die sakevleuel meen dit is in belang van rugby in die Kaap dat Treu en die WP se paaie skei.

Die sakevleuel het glo die steun van die meeste van die WP se borge, hoewel hulle nie in die openbaar by die moddergooiery betrokke sal raak nie.

In Treu se afwesigheid bestaan Fleck se Super-afrigtingspan vanjaar uit Russel Winter, Dawie Snyman jr. en Norman Laker.

Vier spesialiste – Hanyani Shimange (lynstane en skrums), Dobson (grootliks spankultuur), Gareth Wright (skopwerk) en Paul Feeney (aanval en vaardighede) – sal die Stormers en van die WP se ander spanne bystaan.

Die Stormers se bestuurspan is nog nie amptelik aangekondig nie omdat daar nog onsekerheid oor Treu se rol in WP Rugby bestaan.

Verskeie rolspelers het aan Rapport gesê Vrydagaand se vergadering was ’n kruispad vir WP Rugby en ’n massa-uittog van spelers is voorlopig gestuit.

Rapport verneem net 12 van die huidige groep spelers is vir volgende seisoen gekontrakteer.

Buiten dat WP Rugby dié week oor Treu se toekoms by die unie sal besluit, sal die Kaapse rugbybase ook met die spelers beraadslaag oor die pad vorentoe.

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie, is nie bewus van enige ongelukkigheid wat onder die spelers van die Westelike Provinsie heers nie.

“Jy moet my sê waaroor presies hulle ongelukkig is,” het hy gister aan Rapport gesê.

“As mense ongelukkig is, moet hulle my bel sodat ek dit kan oplos. Hulle moet eintlik hul probleme met die direkteur van rugby opneem, maar ek het geen probleem om met hulle oor probleme te praat nie.

“Ek stap al ’n lang pad met die meeste van die spelers. Ek is nie bewus van enige ongelukkigheid onder die spelers nie, behalwe wat ek in die koerante lees.”

Hy is ook nie bewus van ’n magstryd tussen sy unie se amateurkant en sakevleuel nie.

“Daar was nog nooit ’n magstryd tussen die amateurkant en sakevleuel nie. Die doel van die maatskappy is om winsgewend te wees en nie om verliese te ly nie.”

Hy het daarop klem gelê dat die amateurkant ’n belang van 100% in die sakevleuel het en dat sekere lede in die raad en direksie dien.

Die WP se president is onseker oor wat die toekoms vir Paul Treu by sy unie inhou.

“Ek raak nie betrokke by die bedryfskant nie. Ons het net ’n oorsigtelike rol. Jy moet daaroor met die direkteur van rugby of die uitvoerende hoof praat.”

Marais weet ook nie veel van Gert Smal se toekomsplanne wanneer Oktobersy kontrak amptelik in as die WP se direkteur van rugby verstryk nie.

“Ek weet nie van Gert se toekomsplanne nie, maar ons sal nie in iemand se pad staan om aan te beweeg nie.”

Oor beweringe dat hy die week op ’n vergadering ’n klousule in die WP se grondwet wou gebruik om beheer oor die kontrakte van spelers en afrigters te neem, het Marais so reageer: “Die klousule het waarskynlik in 1995 sy oorsprong gehad. Die klousule was van toepassing in Koos Basson se era. Ook in Tobie Titus s’n. Dit is steeds die wet.

“Niemand is verhewe bo die wet nie. Die wet is die wet. As jy dit breek, moet jy tronk toe gaan. Ek kan nie die wet ignoreer nie.”



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net