’n Leeus-span propvol staatmakers sal Sondag in die Kaapstad-stadion poog om hul laaste vakansie-spinnerakke af te skud voordat hul Superrugby-opmars in alle erns begin.
Terwyl Robert du Preez, die Haaie-breier, besluit het om verskeie van sy sterspelers verdere ruskans te gee vir die opwarmwedstryd tussen die Durbaniete en die Leeus, het sy Gautengse eweknie ’n ander roete gekies.
Swys de Bruin, die Leeus se breier, het bykans sy beste beskikbare vyftiental vir dié opwarmwedstryd op “Superheld-Sondag” gekies.
Strydrosse soos Elton Jantjies, Aphiwe Dyantyi, Lionel Mapoe, Malcolm Marx, Courtnall Skosan, Andries Coetzee, Kwagga Smith, Harold Vorster en Warren Whiteley, die kaptein, is almal by die beginspan ingesluit.
Die Haaie het ook ’n sterk span gekies, maar voorkeurspelers soos Beast Mtawarira, André Esterhuizen, Robert du Preez en Ruan Botha word ’n verlengde blaaskans gegun.
Hoewel ’n mens selde iets nuttig wys kan word uit opwarmwedstryde, sal daar ’n paar aspekte wees wat as rigtingwysers op dié twee spanne se seisoen kan dui.
Eerstens sal dit interessant wees om te sien hoe die Leeus se lostrio van Smith, Hacjivah Dayimani en Whiteley vaar, veral teen die veel swaarder trio van Dan du Preez, Tyler Paul en Jacques Vermeulen.
Die Leeus se lostrio is bitter vinnig en beweeglik, wat daarop dui dat die Gautengers die Haaie van hul voete af sal wil hardloop.
Aan die Haaie se kant sal Curwin Bosch se vertoning op losskakel met ’n valkoog dopgehou word. Hy het verlede jaar merendeels heelagter gespeel om plek te maak vir Robert du Preez, maar geluide uit die Haaie-kamp wil dit laat blyk of Bosch vanjaar meer gereeld die nr. 10-trui gaan dra.
Sit hy vir Jantjies ore aan in dié twee se tweestryd, sal dit sy aanspraak om die Haaie se gereelde generaal te wees, ’n wesenlike hupstoot gee.
Die aanduiding is dat die Leeus se ervare spelers slegs ’n helfte lank sal speel. In dié helfte, sal hulle moet sorg dat die fisieker Haaie nie die oorhand kry nie.
Hulle sal ook moet bewys dat hulle ná drie agtereenvolgende eindstryd-nederlae, steeds die aptyt het om dié trofee te wen. Al is dit nog net ’n opwarmwedstryd.
Leeus: Andries Coetzee, Courtnall Skosan, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Aphiwe Dyantyi, Elton Jantjies, Nic Groom, Warren Whiteley (k), Hacjivah D ayimani, Kwagga Smith, Marvin Orie, Ruan Vermaak, Carlu Sadie, Malcolm Marx, Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Pieter Jansen, Danie Minnie, Frans van Wyk, Jacobie Adriaanse, Marnus Schoeman, Dillon Smith, Shaun Reynolds, Sylvian Mahuza, Ruan Combrinck, Vincent Tshituka, Rhyno Herbst.
Haaie: Lwazi Mvovo, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, Marius Louw, Makazole Mapimpi, Curwin Bosch, Louis Schreuder, Dan du Preez, Tyler Paul, Jacques Vermeulen, Hyron Andrews, Gideon Koegelenberg, Thomas du Toit, Kerron van Vuuren, Juan Schoeman. PLAASVERVANGERS: Akker van der Merwe, Mzamo Majola, Khutha Mchunu, JJ van der Mescht, Luke Stringer, Wian Vosloo, Phepsi Buthelezi, Cameron Wright, Rhyno Smith, Jeremy Ward, Aphelele Fassi.
Skeidsregter: Jaco Peyper.
Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni en Divan Uys.
Afskop: 14:00 (op SS 1 en SS 11).