Print Page | Close Window

Louis: ‘Haaie-span kan ver vorder’

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7316
Printed Date: 18-May-2024 at 4:30pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Louis: ‘Haaie-span kan ver vorder’
Posted By: Transvaal
Subject: Louis: ‘Haaie-span kan ver vorder’
Date Posted: 29-Jan-2019 at 8:00pm
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/louis-haaie-span-kan-ver-vorder-20190129%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/Super-Rugby/louis-haaie-span-kan-ver-vorder-20190129

Op “Superheld-Sondag” begin die Haaie se opmars na wat hulle van harte hoop ’n super-Superrugby-seisoen sal wees.

Die Haaie speel dan in die Kaapstad-stadion in hul eerste opwarmwedstryd teen die Leeus. Dié wedstryd vorm deel van die Superheld-veldtog, waarin die vier Suid-Afrikaanse spanne in truie wat deur Marvel-superhelde geïnspireer is, teen mekaar te staan sal kom.

Haaie-ondersteuners sal Saterdag die eerste keer sien of die Curriebeker-sukses van 2018 die span tot nuwe hoogtes kan aanvuur.

Louis Schreuder, die Haaie se kaptein, sê hulle was verlede jaar nie tevrede daarmee om slegs die kwarteindronde te haal nie.

Daar het hulle teen die Crusaders vasgeval, wat die eindstryd teen die einste Leeus gewen het.

“Verlede seisoen was ’n teleurstelling vir ons,” sê Schreuder.

“Hoewel ons die uitspeelronde gehaal het, wou ons nie hê ons veldtog moes in die kwarteindronde eindig nie. Om weg teen die Crusaders in verlede jaar se kwarteindronde te speel, was ’n groot taak vir ’n jong span.

“Vanjaar wil ons verder vorder, ons wil sien hoe ver ons dit kan maak. Ek glo ons het die groep om dit te doen.”

Schreuder was verlede jaar die Haaie se kaptein vir die halfeindstryd en die eindstryd van die Curriebeker-reeks, wat die Haaie gewen het.

Hy glo dié ervaring het hom geslyp en glo nie sy eie spel sal negatief beïnvloed word deur die bykomende verantwoordelikheid nie.

“Ek was in die verlede al in leierskapsrolle en dit kom natuurlik vir my,” sê hy.

“Ons het ook ’n goeie leierskorps en verskeie ervare ouens op wie ek kan peil trek, soos Beast Mtawarira, Chiliboy Ralepelle en Lwazi Mvovo. Hulle sal my baie help.”

Schreuder glo die Curriebeker-sukses sal die span baie selfvertroue vir die Superreeks gee.

“Ons was ’n jong groep, ek en Lwazi was die oudste spelers in die groep. Dit was belangrik vir die jong groep om sukses te smaak.

“Dit was boonop lekker om die eindstryd weg van die huis (teen die WP op Nuweland) te wen. Ons was die buiteperd, so dit was ’n sprokieseinde aan die seisoen.”

* Intussen het die Haaie Dinsdag aangekondig die voormalige Engelse kaptein Nick Easter gaan hom weer as ’n konsultant by die span aansluit vir die Superrugby-reeks.

Easter was verlede jaar deel van die Haaie se afrigtingspan tydens hul suksesvolle Curriebeker-veldtog.

“Nick het baie waarde toegevoeg terwyl hy verlede jaar by ons was en hy het goed ingepas by ons spankultuur,” sê Robert du Preez, die Haaie-breier, in ’n verklaring.

“Sy ervaring en die taktiese kennis wat hy oorgedra het, was uitstekend en ek is seker as ’n jong afrigter het hy ons kultuur omarm en baie by ons ook geleer.

“Hy het ’n enorme positiewe invloed in die spanomgewing en ons sien daarna uit dat hy hom volgende week weer by ons aansluit.”



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net