Daar is verskeie nuwe besems aan die vee op Loftus Versfeld, maar op die keper beskou lyk dit of ‘n sameloop van omstandighede dalk die regte manne op die regte tyd bymekaargebring het om die Bloubul-skip weer op koerste kry.
Tien jaar sonder die Curriebeker en nege jaar sonder die SuperRugby trofee. Dis nou amptelik die langste bekerdroogte vir ondersteuners van die Blou Bulle en die Bulls in die 50 jaar sedert die goue jare in 1968 aangebreek het.
Trouens, wat SuperRugby betref, het die Bulls laas in 2013 – ses jaar gelede – die uitspeelfase gehaal. Dít was dus ook die laaste keer dat hulle daarmee kon spog om Suid-Afrika se top span in die toernooi te wees.
Dis die realiteit wat die “nuwe” Loftus familie in 2019 in die gesig staar.
Sedert die Bulls die laaste van hul drie SuperRugby titels in 2010 gewen het, het Loftus Versfeld van ‘n gevreesde fort vir die magtige Blou Bulle verander in ‘n rugbystadion wat midde in die rugbyseisoen stelselmatig al hoe leër geword het.
Elke nou en dan was daar opflikkerings, maar weens verskeie redes kon die groot hoogtes van weleer maar net nie geëwenaar word nie.
Verlede seisoen is heelwat geraas gemaak uit sommige oorde oor die “nuwe era” wat John Mitchell se koms sou bring. Maar vir diegene wat die saak behoorlik ontleed het, was dit nie vreemd toe dié berg ook ‘n muis gebaar het nie.
Vir moedelose en vuisvoos ondersteuners van die Bulls en die Blou Bulle mag dit dus dalk na nog ‘n holruggeryde cliché klink as ‘n mens sou sê dat daar hier in Januarie vanjaar reeds ‘n heel nuwe gees van hoop, opgewondenheid en stille vertoue op Loftus heers.
Tog is dit presies wat ‘n mens bespeur as jy deesdae by Loftus kom. Wat vanjaar se positiewe gees anders maak as die voriges, is die feit dat daar nou nie meer na ‘n rugby-messias of ‘n superman met ‘n towerstaf gekyk word om hoop te bring nie. Nee, deesdae is daar ‘n gees van samehorigheid, inklusiwiteit en spanwerk.
Die son het inderdaad reeds anders begin skyn op Loftus toe die jong Turke onder leiding van Willem Strauss die teuels van hierdie wa in die raadsale oorgeneem het. Dit was ‘n stelselmatige en frustrerende proses wat baie ondersteuners nie aldag verstaan het nie. Hulle het nog gedroom van die beloofde “Mitch-era” wat sukses sou bring, minwetend dat dít waarskynlik die groot waterskeidingsproses sou versnel.
Daar was in die amateur-era laas sulke sterk en doelgerigte leiers in die bestuur van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) soos wat daar deesdae is. Daarbenewens is daar ook nuwe manne op die Blou Bulle Maatskappy (BBM) se direksie vir wie rugby en die eer van die Bulle heel bo aan hul agenda staan. Hulle bona fides is suiwer en dít gaan ‘n reuse verskil maak.
Onder leiding van Strauss en sy nuwe breintrust het ons verlede jaar ook die proses beleef waarin die Bulls se nuwe spanbestuur stelselmatig vorm aangeneem het.
Byna elke lid van dié nuwe spanbestuur het lank gewag vir hierdie kans wat hulle vanjaar kry om hulself te bewys.
Pote Human is ‘n baie beter afrigter as waarvoor hy oor die algemeen erkenning kry. Dis egter sy bestuurstyl en sy persoonlikheid wat waarskynlik die waardevolste bate gaan wees in hierdie nuwe era.
Human word deur die spelers gerespekteer, maar net so respekteer hy hulle én sy kollegas ook. Hy het nié die ego van sy voorganger nie en sy tegniese kennis word deeglik onderskat. Boonop verstaan hy die rugbykultuur van Pretoria – ‘n feit wat van kardinale belang is.
As nuwe hoofafrigter het Human ook reeds ‘n paar verrassende skuiwe gemaak wat oor ‘n paar maande van nou af as reuse troefkaarte bewys kan word.
Die keuse van Lood de Jager as kaptein is een van dié waarskynlike meesterskuiwe. De Jager is hoogs intelligent en hy het boonop ‘n rugbybrein soos min ander. Hy is ook gewild onder sy spanmaats en sy leierseienskappe sal baie ongelowige Thomasse vanjaar verbaas. Hy is presies die soort leier wat die Bulls in hierdie nuwe proses nodig het – ‘n man wat deur voorbeeld en met inspirasie kan lei, terwyl hy ook op die veld met ‘n strategiese rugbybrein kan dink.
Nog een van Human se potensiële meesterskuiwe is die heraanstelling van Pine Pienaar as verdedigings-afrigter. Pienaar se kennis en vernuf word heeltemal onderskat, veral deur ondersteuners wat bittermin kennis het oor al die intriges wat op Loftus Versfeld afgespeel het sedert Pienaar in 2011 as belowende en suksesvolle jong afrigter deur Heyneke Meyer uit Bloemfontein na Loftus gelok is.
As ‘n bewese kenner van skrumwerk soos Daan Human boonop ook na Loftus gelok kan word, sal die Bulls van 2019 ‘n heel nuwe gedierte wees. Skrumwerk en die oorheersing in dié afdeling bly immers ‘n kardinale aspek om sukses in rugby te behaal.
Saam met skrumwerk was ‘n gebrek aan professionele vaardigheid vir die Bulls – soos vir meeste ander Suid-Afrikaanse spanne – ‘n groot kopseer, veral in vergelyking met Nieu-Seelandse spanne in die SuperRugby reeks.
In hierdie verband het die bestuur klaarblyklik ook raakgevat met die aanstelling van Alan Zondagh as Direkteur van Rugby op Loftus. ‘n Mens sal lank soek vir nog ‘n hoëprofiel rugbykenner in Suid-Afrika met Zondagh se ervaring en kennis. Hy is boonop die soort man wat sy stempel sal afdruk sonder om deur onbenullige rugbypolitiek gesteur te word.
Zondagh verstaan die situasie waarin Suid-Afrikaanse rugby ná 22 jaar van rompslomp sedert die aanbreek van die professionele era verkeer waarskynlik beter as enigiemand anders.
Die kersie op hierdie nuwe koek by Loftus is die aanstelling van Alfons Meyer as nuwe Hoof Uitvoerdende Beampte van die BBM. Hou dié man gerus dop. Hy kom Loftus toe sonder enige rugby-bagasie, maar met jare se sake-en bestuursondervinding én ‘n groot liefde vir die Bulle.
As hierdie nuwe masjien op Loftus se ratte begin draai en die olie begin pomp, is dit byna net die alewige politieke struikelblokke wat nog tussen die Bulls en ‘n nuwe glorietydperk kan staan.