Print Page | Close Window

Geld-galg wurg Grens Rugbyunie

Printed From: Lionsworld
Category: General Rugby
Forum Name: SA Rugby Issues
Forum Description: SA Rugby Issues
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7160
Printed Date: 28-Apr-2024 at 10:26pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Geld-galg wurg Grens Rugbyunie
Posted By: Transvaal
Subject: Geld-galg wurg Grens Rugbyunie
Date Posted: 17-Dec-2018 at 4:35pm
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/geld-galg-wurg-grens-20181215%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/geld-galg-wurg-grens-20181215

Die finansiële situasie by die Grens Rugbyunie (GRU) is só beroerd dat dié unie nie ’n professionele span op die been kan bring vir die 2019-seisoen nie.

Die Bulldogs sal volgende jaar nie in die SuperSport-uitdaagreeks óf die Curriebeker-reeks se Eerste Liga deelneem nie, het Rapport betroubaar verneem. Dit sal die eerste keer in die beroepsera wees dat een van Suid-Afrika se 14 unies nie aan ’n professionele kompetisie deelneem nie.

Die wyse waarop die verkose ampsdraers Grens die afgrond in bestuur het, is skokkend. Hierdie ampsdraers kom skotvry daarvan af terwyl die spelers en werknemers die pyn en gevolge moet dra

Met ’n administrateur van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) in beheer van die unie, is die erns van die saak nou duidelik. Die wanbestuur deur die GRU se administrasie is erger as wat verwag is.

Dit is die gevolg van swak korporatiewe bestuur wat daartoe gelei het dat die unie vir die tweede keer in etlike jare onder Saru-administrasie geplaas is.

Volgens Rapport se inligting sal die toelae vir die uitsaairegte wat Grens van Saru kry, slegs gebruik word om sy skuld te betaal. Dié skuld beloop tans R18 miljoen.

Die GRU sê die koste vir hul provinsiale span, die Bulldogs, kan weens toenemende skuld nie gedek word nie. Dié koste beloop sowat R3 miljoen.

Met administrasiekoste wat bykans R5 miljoen vir die jaar beloop, is daar ook nie geld om werknemers in die stelsel te hou nie.

Die skuld sal dus oor die volgende jaar tot bykans R25 miljoen styg. Basil Haddad, Saru se administrateur, probeer dringend keer dat die damwal breek.

Grens gaan nou dieselfde roete as die Oostelike Provinsie volg en vir ’n jaar of twee geen spelers kontrakteer nie.

Die eerste prioriteit sal wees om klub-, vroue- en skolerugby te beskerm en die amateur-strukture te behou. Eers wanneer die geldsake gestabiliseer word, sal daar weer na professionele rugby gekyk word.

Terwyl 29 personeellede deur ’n afleggingsproses hul werk verloor het, het vier werknemers wat lede van Sport Employees Unite (SEU) is, en wat op vastetermynkontrakte is, die geveg om hul werk te behou vandeesweek gewen. Dié vier personeellede sal van volgende jaar af binne die unie se strukture ontplooi word.

Die GRU wou aanvanklik dié vier personeellede afdank, maar het nie geld om hul kontrakte, wat saam ’n geraamde R1,4 miljoen beloop, uit te betaal nie.

Daar word gehoop dat die stadion-personeel se salarisse deur die Buffalo City-munisipaliteit oorgeneem sal word. Sulke gesprekke sal in die nuwe jaar gevoer word om te voorkom dat die stadion vervalle raak.

Volgens die uitvoerende hoof van SEU, Piet Heymans, is dit ’n hartseerdag vir rugby.

“Die wyse waarop die verkose ampsdraers Grens die afgrond in bestuur het, is skokkend. Hierdie ampsdraers kom skotvry daarvan af terwyl die spelers en werknemers die pyn en gevolge moet dra,” sê Heymans.

“Ons sal in die nuwe jaar met Saru praat om te kyk of daar meer omvattende en vroegtydige maatreëls ingestel kan word om soortgelyke gevalle in die toekoms te verhoed.

“Miljoene rande word in die hande van verkose ampsdraers geplaas en ons bevraagteken of daar genoeg kontrole en oorsig daaroor is.”

Die spelersorganisasie MyPlayers het ook in ’n stadium die GRU probeer likwideer, maar administrateurs het die spelers oorreed om die aansoek terug te trek. Skaars ’n maand later is daar aangekondig dat Grens nie nuwe kontrakte aan spelers gaan aanbied nie en met ’n afleggingsproses sou begin.

’n Woordvoerder van Saru het aan Rapport gesê die bepalings van volgende jaar se SuperSport-uitdaagreeks en die Eerste Liga van die Curriebeker-reeks is nog nie vasgestel nie.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net