Die Springbok-haker Malcolm Marx was Dinsdagaand in Sandton die groot wenner by die BrightRock Players Choice-prysuitdeling, waar hy met twee eerbewyse weggestap het.
Marx (24), wat deur baie as die beste haker in wêreldrugby beskou word, is vereer met twee gesogte toekennings: as die Spelers se Speler van die Jaar én die Voorspeler van die Jaar.
Hy het die Bok-kaptein, Siya Kolisi, wat ’n benoemde in albei dié kategorieë was en verlede jaar die twee toekennings verwerf het, uitgestof.
Marx was vroeër vanjaar ook ’n benoemde as Wêreldrugby se Speler van die Jaar.
Die ander benoemdes as Spelers se Speler van die Jaar was Aphiwe Dyantyi en Kwagga Smith.
Smith en Pieter-Steph du Toit is ook benoem as Voorspeler van die Jaar.
Die 24-jarige Dyantyi, ’n vleuel, is as Agterspeler van die Jaar bekroon. Hy het die veelsydige agterspeler Damian Willemse, die senter Lukhanyo Am en Zenay Jordaan van die Springbok-sewesspan om die prys uitgestof.
Dyantyi, wat vanjaar sy Springbok-debuut gemaak het nadat hy in 2017 nog vir die Universiteit van Johannesburg in die Varsitybeker-reeks uitgedraf het, is ook vereer as die speler wat die meeste verbetering getoon het.
Hy het net verlede maand weggestap met die prys as Wêreldrugby se Deurbraakspeler van die Jaar.
Du Toit, wat op slot en as losvoorspeler vanjaar vir die Bokke diens gedoen het, is vereer as Verdediger van die Jaar. Die Bok-slot Franco Mostert, Kolisi en die Blitsbok Werner Kok was die ander benoemdes in die kategorie.
Die Blitsbok Zain Davids is as die beste plaasvervanger vereer, terwyl die Leeu-losvoorspeler Hacjivah Dayimani die Ondersteuners se Speler van die Jaar is.
Spelers se Speler van die Jaar: Malcolm Marx
Voorspeler van die Jaar: Malcolm Marx
Agterspeler van die Jaar: Aphiwe Dyantyi
Verdediger van die Jaar: Pieter-Steph du Toit
Beste Plaasvervanger: Zain Davids
Meeste vordering: Aphiwe Dyantyi
Ondersteuners se Speler van die Jaar: Hacjivah Dayimani