Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) en Victor Matfield onderhandel nog oor ’n paar kwessies, wat meebring dat die voormalige Springbok-slot op die vroegste eers volgende week as die Bulle se nuwe hoofafrigter aangewys sal word.
Daar is aanvanklik gehoop dat John Mitchell se opvolger aan die begin van Desember by Loftus Versfeld sy opwagting sou maak, maar Matfield sal in alle waarskynlikheid eers in Januarie sy planne vir 2019 se Superreeks in werking kan stel.
Na verneem word, is daar ’n paar “kwessies” in Matfield se kontrak wat uitgepluis moet word.
Die aard van die kwessies is glo nie sodanig dat onderhandelings tussen die partye skipbreuk sal ly nie.
Dit vertraag wel die maatskappy se planne om Matfield as die franchise se nuwe hoofafrigter bekend te stel. Dit blyk intussen dat die Bulle nie van plan is om ’n direkteur van afrigting aan te stel nie.
Mitchell, wat hom vroeër dié seisoen as ’n hulpafrigter by Engeland se nasionale span aangesluit het, is verlede jaar as die Bulle se hoof van rugby én hoofafrigter gekontrakteer.
Luidens ’n berig in Rapport is Alan Zondagh, ’n oudbreier van die Westelike Provinsie, bestem om die Bulle se direkteur van afrigting te word.
Die beleggingsmaatskappy Remgro, wat ’n 50%-belang in die BBM het, is volgens inligting ten gunste daarvan dat iemand met Zondagh se ervaring Matfield bystaan.
Daar word by Loftus verneem daar is planne om Zondagh te betrek, maar hy sal net deeltyds uithelp en daar is nie ’n pos vir Mitchell se hoof van rugby nie.
Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) en voorsitter van die Bulle se direksie, sê daar sal duidelikheid kom oor moontlike rolspelers en hulpafrigters nadat die nuwe hoofafrigter se aanstelling bekragtig is.
“Ek kan in dié stadium niks meer oor die proses sê nie.”
Daar sal ook eers ná Matfield se aanstelling besluit word tot watter mate die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, by die span se Superrugby-voorbereiding betrokke sal wees.
Erasmus het vroeër die seisoen sy hulp aangebied, sou die Bulle ná Mitchell se bedanking in September ’n krisis hê met die span se voorbereiding.
Die 41-jarige Matfield, wat die Bulle aangevoer het in die span se goue era sowat ’n dekade gelede, sal die span se vierde Superrugby-breier in vyf seisoene wees.