Forum Home Forum Home > General Rugby > SA Rugby Issues
  New Posts New Posts RSS Feed - Wet kan rugby knak
  FAQ FAQ  Forum Search   Events   Register Register  Login Login


The Lions next play the Ospreys in Swansea in the URC on 30 March 2024, kickoff is at 17:05

Wet kan rugby knak

 Post Reply Post Reply
Author
Message
Transvaal View Drop Down
Admin Group
Admin Group


Joined: 30-Mar-2016
Status: Offline
Points: 39037
Post Options Post Options   Thanks (0) Thanks(0)   Quote Transvaal Quote  Post ReplyReply Direct Link To This Post Topic: Wet kan rugby knak
    Posted: 06-Jan-2019 at 8:08am
https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/wet-kan-rugby-knak-20190105

Voorgestelde nuwe wetgewing oor sportuitsendings op televisie kan sportsoorte soos rugby, krieket, sokker en atletiek geldelik nek omdraai.

Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) het kort voor Kersfees konsepregulasies in die Staatskoerant gepubliseer wat oënskynlik daarop gemik is om MultiChoice se houvas op sportuitsendings te breek.

Sport-rolspelers beskryf dit as ’n fiasko vir die SAUK wat binnekort nie meer salarisse sal kan betaal nie, en ook vir die onderskeie sportsoorte.

Die konsepregulasies het amptelik ten doel om “wyer gehore (vir sport) te bereik en ’n balans met inkomste te skep” en “gelykheid en menswaardigheid te bevorder deur toegang tot sport van nasionale belang”.

Ingevolge die regulasies móét gratis uitsaaiers soos die SAUK voortaan 11 internasionale toernooie van onder meer rugby, sokker, krieket, boks, netbal en atletiek regstreeks uitsaai.

Op die oomblik is die SAUK nie verplig om dié toernooie regstreeks en dus teen ’n reusekoste uit te saai nie.

Die regulasies bepaal verder dat alle uitsaaiers voortaan minstens twee keer per jaar twee “minderheidsportsoorte”, soos dans, inheemse sport, vegkuns, yshokkie, waterpolo, stoei, gimnastiek of motorsport, moet uitsaai.

Rapport het vroeër berig hoe die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) en die Premiersokkerliga by Okosa gepleit het om nie die huidige sportregtebedeling te verander nie omdat dit hul belangrikste inkomstestroom sal afsny.

Saru se uitvoerende hoof, Jurie Roux, het aan Okosa gesê 55% (R669 miljoen) van hul inkomste in die laaste boekjaar was uit uitsaairegte.

“Die verkoop van uitsaairegte vorm die kern van die manier waarop ons inkomste kan genereer. Sonder die vryheid om die maksimum inkomste daaruit te verdien, sal die sport se vermoë om sy verpligtinge na te kom ernstig in gevaar gestel word,” het hy gesê.

Andy Colquhoun, Saru-woordvoerder, het Vrydag gesê hulle kon nog nie die regulasies bestudeer nie omdat dit in die vakansietyd gepubliseer is.

Russell Paul, waarnemende hoof van die nasionale sokkervereniging (Safa), het aan Rapport gesê die regulasies sal sokker én ander professionele sportsoorte geldelik nek omdraai.

“Safa sal dit onder geen omstandighede aanvaar nie, want dit gaan ’n geweldig negatiewe impak hê op die ontwikkeling van sokker. Die verkoop van uitsaairegte is ons kerninkomste vir die ontwikkeling van sokker. En ons mag nie borgskapgeld vir ontwikkelingsdoeleindes gebruik nie omdat dit slegs vir die spesifieke spanne en toernooie aangewend kan word vir wie dit beskore is.

“Die geld wat ons uit uitsaairegte verdien, stel ons in staat om ons 3,5 miljoen spelers te finansier en alle onkoste van al ons spelers te betaal. Die nuwe regulasies sal dit alles verander.”

Paul sê die SAUK het eenvoudig nie geld om die nodige uitsaairegte te koop nie.

Die SAUK en Safa is reeds sedert Oktober in ’n skaakmatsituasie omdat die sokkerliggaam geweier het dat die SAUK Bafana Bafana-wedstryde uitsaai. Safa wil R150 miljoen vir dié regte hê, maar die SAUK sê hy kan net R10 miljoen bekostig. Paul sê dit lyk of die SAUK dit eerder verniet wil hê.

“Ons wil hê die publiek moet Bafana Bafana se wedstryde sien, maar ons kan dit nie verniet weggee nie.”

Ingevolge die konsepregulasies sou die SAUK verplig gewees het om die gewraakte Bafana Bafana-wedstryde regstreeks uit te saai, maar daar is geen voorsiening in die regulasies oor waar die geld vandaan moet kom nie.

“Dit is problematies. Die SAUK is bankrot en het nie geld om vir uitsaairegte te betaal nie. Daar kan nie van ons verwag word om dit verniet aan hulle weg te gee nie.”

Die SAUK het ook nie noodwendig die aptyt om huidige programskedules te onderbreek vir hope regstreekse sportuitsendings nie.

In ’n onlangse voorlegging aan die parlement het die SAUK gesê hy ly massiewe verliese om sommige “sportsoorte van openbare belang” uit te saai.

Die SAUK sal net met hul huidige uitsendings ’n tekort van byna R680 miljoen per jaar hê teen 2021, lui die voorlegging. Die SAUK het aan wetmakers gesê belastingbetalers behoort dié verskil by te dra deur die fiskus.

Neo Momodu, SAUK-woordvoerder, wou nie uitbrei oor die finansiële en praktiese implikasies vir die SAUK nie.

“Die SAUK se uitgawes aan sportregte is openbare kennis en ons gaan nie verder kommentaar lewer nie. Ons sal deelneem aan die konsultasieproses oor die konsepregulasies.”

Luidens vorige berigte het die SAUK in die afgelope twee jaar R1,2 miljard bestee aan sportuitsaairegte waarvan meer as die helfte (R700 miljoen) vir PSL- en Safa-wedstryde was. Die uitsaaier het net R32,7 miljoen aan uitsaairegte vir rugby bestee.

William Bird, direkteur van Media Monitoring Africa, sê die konsepregulasies skep net verloorders.

“Dit lyk asof Okosa ’n balans probeer skep tussen openbare en kommersiële belange, maar uiteindelik skep dit ’n onvolhoubare situasie vir sowel uitsaaiers as sportbeheerliggame omdat eksklusiewe uitsaairegte van die tafel gevee word.

“Dit is duidelik dat die impak van die regulasies nie behoorlik deurdink is nie.”

Bird sê as MultiChoice minder eksklusiewe inhoud sal kan koop, sal hulle uiteraard baie minder vir nie-eksklusiewe inhoud wil betaal, wat weer die sportsoorte se inkomste sal raak.

Paseka Maleka, Okosa-woordvoerder, bevestig dat die wetgewing MultiChoice sal verplig om ook uitsaairegte te verskaf aan die SAUK vir die volgende toernooie: Olimpiese Somer- spele, Paralimpiese Spele, wêreldbekertoernooie vir krieket, rugby en sokker, Afrika-beker vir sokker, die T20-kriekettoernooi, internasionale bokswedstryde, nasionale netbalwedstryde, die Statebondspele en byeenkomste van die internasionale atletiekfederasie.

Waar van dié sport tans ure of dae ná die tyd uitgesaai word op SAUK-kanale, vereis die konsepregulasies regstreekse uitsendings saam met MultiChoice.

MultiChoice het vroeër aan Rapport gesê dié uitsaaier is verreweg die grootste belegger in Suid-Afrikaanse sport en bestee sowat R2 miljard per jaar aan uitsaairegte.

Joe Heshu, MultiChoice-woordvoerder, sê hulle kon nog nie die konsepregulasies in besonderhede bestudeer nie. “Ons verstaan die proses is nog in sy beginstadium. Ons beplan om ’n omvattende voorlegging in te dien om te verseker dat die regulasies wat uiteindelik gepubliseer word met die toepaslike statutêre bepalings strook soos uiteengesit is in die Wet op Elektroniese Kommunikasie.”

Rolspelers kan tot 4 Februarie kommentaar lewer op die konsepregulasies.
Back to Top
 Post Reply Post Reply
  Share Topic   

Forum Jump Forum Permissions View Drop Down

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd.

This page was generated in 0.076 seconds.