Forum Home Forum Home > General Rugby > SA Rugby Issues
  New Posts New Posts RSS Feed - Ellispark-baas se skoert-toe word hy in Bloem Bok
  FAQ FAQ  Forum Search   Events   Register Register  Login Login


The Lions next play Connacht in Ireland in the URC on 23 March 2024, kickoff is at 19:15

Ellispark-baas se skoert-toe word hy in Bloem Bok

 Post Reply Post Reply
Author
Message
Transvaal View Drop Down
Admin Group
Admin Group


Joined: 30-Mar-2016
Status: Offline
Points: 39011
Post Options Post Options   Thanks (0) Thanks(0)   Quote Transvaal Quote  Post ReplyReply Direct Link To This Post Topic: Ellispark-baas se skoert-toe word hy in Bloem Bok
    Posted: 11-Nov-2019 at 8:26am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/ellispark-baas-se-skoert-toe-word-hy-in-bloem-bok-20191109

Hy was ’n vetgesmeerde blits met ’n giftige swenk en afstamp en sy wendrie in die derde toets teen die Britse Leeus-toerspan van 1980 in gietende reën in die Boet Erasmus-stadion in Port Elizabeth het die Springbokke in ’n onaanvegbare posisie van 3-0 in die reeks van vier toetse geplaas.

Gerrie Germishuys was ’n afronder en driedrukker by uitstek en in sy net 20 toetse het hy 12 toetsdrieë gedruk nadat hy in 1974 sy Bok-debuut gemaak het.

Dit het die ou garde onwillekeurig laat terugdink aan vervloë dae toe vleuels in Groen-en-goud die drieë ingeryg het. 

Germishuys is steeds pure Bok en die Bokke se Wêreldbeker-triomf in Japan laat sy rugbyhart warm klop.

“Dit was ’n fantastiese WB-eindstryd,” sê Germishuys van die Bokke se oorwinning met 32-12 oor die Engelse verlede naweek in Jokohama. “Min mense het gedink die Springbokke kon wen. Ek het hulle maar ’n 50-50-kans gegee, op grond van vertonings in die opbou tot die eindstryd. “Op die dag was elke speler egter fantasties. Die vleuels het hulle kanse behoorlik benut.“ ’n Mens het nie verwag dat die Bokke so aanvallend sou speel nie. Maar as jy enige span, selfs Engeland of die All Blacks, onder druk plaas, gaan hulle foute begaan en as daar goeie balle daaruit voortspruit moet jy dit gebruik.”

Germishuys, wat onlangs sy 70ste verjaarsdag gevier het, woon steeds in Johannesburg en vat die lewe tans heel rustig. “Ek sit op die stoep, soos ’n oupa,” skerts hy. “Ek lees, voltooi blokkiesraaisels en ry rond . . . totdat Sarie vanjaar aftree, dan doen ons dit saam! “Ek was tot onlangs betrokke by die afrigting van die Hoërskool Linden se junior rugbyspanne, maar het al twee my knieë laat vervang, en is dus tans effens buite aksie.”

Gerrie en Sarie is al 47 jaar getroud: “Die ouer-generasie-vrouens weet hoe om vas te byt.” Hul kroos bestaan uit drie dogters en drie kleinseuns. “Die oudste, Ilze (41), is ’n skoonheidskundige. Sy is getroud en het twee seuns, Josh (11) en Ethan (7),” sê Germishuys trots.

Net om weer naby aan die familie te wees, is ook lekker.“Sanelle (37) was vir lank ’n aankoper by Mr Price in Durban, maar is nou terug in Johannesburg as ’n geleentheidsbestuurder vir Tupperware.“Carla (35) en haar man besit ’n koffiewinkel in Hilton, terwyl sy ook opheffingswerk doen in die platteland van KwaZulu-Natal.“Sy het pas hulle eersteling gehad, ook ’n seuntjie, Ewan (een maand).”Carla het Suid-Afrika voorheen in driekamp verteenwoordig en ’n eerste plek behaal by die Wêreldkampioenskap in Vancouver, Kanada, in 2008.

Germishuys is op 29 Oktober 1949 op Port Shepstone aan die Natalse suidkus gebore, maar het aan die Oos-Rand grootgeword. “Ek sê altyd ek is gebore in Natal, het grootgeword in die Transvaal, maar mens geword in die Vrystaat.”

Sy hoërskooljare het hy aan die Hoërskool Brandwag in Benoni deurgebring. Daar kon hy egter nie die Oos-Transvaalse Cravenweekspan haal nie. “Ek het nooit eens Brandwag se eerste span gemaak nie,” lag hy. “Ek het altyd die A-spanne in my onderskeie ouderdomsgroepe verteenwoordig, maar in st. 9 vir die derde span gespeel en in matriek die tweedes. “In die weermag het ek aan gimnastiek deelgeneem en eers aan die einde van my diensplig ’n bietjie rugby gespeel.” 

Daarna het Germishuys aan die Goudstadse Onderwyskollege gestudeer, waar hy die o.20-span gehelp het om die Transvaal-liga drie jaar agtereenvolgens te wen. Die naaste wat Germishuys egter aan die senior provinsiale span van Transvaal kon kom, was die B-span. “Nadat ek Goudstad by ’n SA Kolleges-toernooi verteenwoordig het, het Sakkie van Zyl van die Vrystaat my genader om Bloemfontein toe te skuif. Die eertydse Transvaalse president, Jannie le Roux, se reaksie daarop was bloot: ‘Gaan maar, jy sal in elk geval nooit die Transvaal-span haal nie.’ “Dus, as dit nie vir die Vrystaat was nie, sou ek nêrens gewees het nie.”

In 1972 is Germishuys as onderwyser by die Laerskool J.B.M. Hertzog aangestel, en sy o.13-spannetjie slaag toe daarin om die eerste keer in die geskiedenis vir Grey Kollege se o.13-span pak te gee. Nie lank daarna nie het hy ’n pos by Grey losgeslaan, en ook sy debuut vir Vrystaat gemaak. Skaars twee jaar later het hy die oog van die Springbok-keurders op hom laat val en hy is nadergetrek vir die tweede toets teen die Britse Leeus in 1974, maar sy vuurdoop, soos dié van die meeste ander Bokke daardie rampspoedige jaar, het in ’n nagmerrie geëindig. Suid-Afrika het verloor met ’n rekordtelling van 9-28. “Daardie Leeus-span was goed, maar ek glo steeds dat die Springbokke meer kompeterend sou gewees het as die keurders eenvoudig die span van die eerste toets behou het en nie elke keer grootskaalse veranderinge aangebring het nie,” meen Germishuys. 

“Die Leeus het net-net gewen teen Transvaal, Vrystaat en Noord-Transvaal, almal spanne waar die spelers mekaar goed geken het. Maar in die nasionale span was daar geen kontinuïteit nie.” Hoewel Germishuys die trekpas gekry het, het dit hom nie van stryk gebring nie. Twee jaar later, in Durban, wals hy om die legendariese Bryan Williams vir die eerste spyker in die All Blacks van 1976 se doodskis. Hy het inderdaad onvergeetlike drieë gedruk, soos sy drietal teen die Britse Leeus in 1980 – een in elk van die eerste drie toetse – en die kritieke drie in die tweede toets teen die All Blacks op die betogertoer van 1981. Sy beste een? “Die eerste een teen die All Blacks in 1976. “Die bal het met ’n agterlynbeweging by my uitgekom, en toe doen ek eenvoudig wat Nelie Smith my geleer het: ’n binne-buite-swenk. Dit het gewerk.”

Vir Gerrie Germishuys het rugby egter oor meer as drieë en seges oor die All Blacks en Leeus gegaan. “Die spangees, hetsy vir die Vrystaat of Springbokke, was altyd besonders. “Ek was bevoorreg om saam met uitsonderlike spelers te kon speel, voetbôllers soos Gysie Pienaar, De Wet Ras en Barry Wolmarans. Hulle het my gemaak. En ’n senter soos Jan Schlebusch; hy het soveel geleenthede vir my geskep om met die bal te hardloop.”
Back to Top
 Post Reply Post Reply
  Share Topic   

Forum Jump Forum Permissions View Drop Down

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd.

This page was generated in 0.064 seconds.