Lood de Jager, Springbok-slot en kaptein van die Bulle, se seisoen is iets van die verlede.
’n Mens sou verwag dat daar ná Saterdag se voortreflike wegsege in die Superreeks oor die Leeus, geen sprake van ’n Blou Maandag by Loftus Versfeld sou wees nie.
Dié slegte nuus is egter ’n groot terugslag vir die Bulle se aanslag in dié kompetisie, sowel as die Springbokke s’n in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi.
De Jager het verlede naweek sy skouer in Buenos Aires teen die Jaguares beseer en daar is aanvanklik aangedui dat hy net twee weke langs die kantlyn sal wees.
Die besering is erger as wat verwag is en hy sal die week geopereer word.
Alfons Meyer, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), het bevestig dat De Jager nie weer vanjaar sal kan speel nie.
“Dit is ’n groot slag vir ons en natuurlik die Springbokke in ’n Wêreldbeker-jaar.
“Albei ons slotte, Eli (Snyman) en Jason (Jenkins), het baie goed teen die Leeus gespeel Saterdag en RG Snyman sal ook oor sowat drie weke weer kan speel.”
De Jager het die laaste ruk groot teëspoed met beserings.
Hy het in Mei verlede jaar ’n borsspier geskeur toe die Bulle op Loftus met die Haaie kragte gemeet het.
Hy was voor die besering uitstekend op dreef in die Bulle se agttal.
Hoewel De Jager die daaropvolgende vyf maande geen rugby gespeel het nie, het die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, hom wel vir die jaareindtoer gekies.
Hy was ’n plaasvervanger in die toetse teen Engeland en Skotland, maar was verstaanbaar nie naby aan wedstrydskerp nie.
Sy jongste besering sal Erasmus se planne vir die WB-toernooi, wat in September in Japan begin, deurmekaar krap.
De Jager was ’n seker keuse om die WB-groep saam met slotte soos Eben Etzebeth en Franco Mostert te haal.
Snyman behoort ook die WB-paal te haal ná sy goeie vertonings verlede jaar, terwyl die veelsydige Pieter-Steph du Toit ook op slot oorweeg kan word in die WB-toernooi. Sy voortreflike spel as steelkantflank sal dit egter ’n onwaarskynlike opsie maak.
Gevolglik kan daar nog ’n plek in die Springbokke se WB-groep vir ’n slot oopgaan. Dít kan as groot geelwortel vir spelers soos Jason Jenkins (Bulle) en JD Schickerling (Stormers) dien in vanjaar se Superrugby-reeks.
Albei was die afgelope naweek goed op dreef in hul spanne se onderskeie weg-oorwinnings oor die Leeus en Haaie.