Print Page | Close Window

Treu kry rol weg van veld

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7186
Printed Date: 21-May-2024 at 9:22am
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: Treu kry rol weg van veld
Posted By: Transvaal
Subject: Treu kry rol weg van veld
Date Posted: 06-Jan-2019 at 8:03am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/treu-kry-rol-weg-van-veld-20190105%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/treu-kry-rol-weg-van-veld-20190105

Paul Treu gaan vanjaar waarskynlik slegs agter die skerms ’n rol by die Stormers vertolk ná onenigheid in die afrigtingspan van dié span.

Rapport verneem Treu, wat verlede jaar as hulpafrigter na die Stormers se gestruktureerde spel omgesien het, gaan hom straks op ontledings toespits.

Ofskoon daar nog geen duidelikheid oor sy rol is nie, word betroubaar verneem dat Treu reeds in Desember met die WP se ringkoppe vergader het, waar daar besluit is oor ’n nuwe rol vir hom – weg van afrigting.

Hy sal nouer met Gert Smal, WP se direkteur van afrigting, saamwerk in die nuwe rol.

Daar is ook nog onsekerheid oor die toekoms van die Kiwi Paul Feeney, wat verlede jaar die hulpafrigter van ongestruktureerde spel was.

Rapport verneem Feeney soek tans ook duidelikheid oor sy betrokkenheid vorentoe en dis juis dié proses wat die aankondiging van die Stormers se bestuurspan kniehalter.

Feeney het verlede jaar glo toestemming gehad om met ander spanne te onderhandel nadat die onenigheid in die WP se afrigtingspan op die lappe gekom het.

Berigte in Wallis het Feeney met die Scarletts verbind, maar dit het op niks uitgeloop nie.

As Feeney nie binnekort duidelikheid oor sy rol kry nie, klink dit of die Stormers hom sal moet uitbetaal. Met die WP wat in ’n benarde finansiële posisie is, is dit onwaarskynlik dat Feeney uitbetaal gaan word.

Treu se skuif kom nadat daar verlede jaar ’n twis ontstaan het tussen hom en Robbie Fleck, die span se hoofafrigter, en Feeney. Treu het gemeen daar is teen hom gediskrimineer en dat sy insette en kennis nie na waarde geskat is deur sy mede-afrigters nie.

Treu, wat ’n meestersgraad in sportdirekteurskap het, het toe ’n griefskrif ingedien nadat hy uit die Stormers se hersieningsvergadering gestap het.

Dít het die WP genoop om met ’n onafhanklike ondersoek te begin. Die WP is vrygespreek ná die ondersoek, maar kon die kwessie tussen sy afrigters nog nie besleg nie.

Die besluit was uiteindelik om Treu en Feeney in ander rolle by WP Rugby aan te wend.

John Dobson, die WP se Curriebeker-afrigter, sal glo weer in ’n raadgewende hoedanigheid ingespan word tydens die Super-reeks. Hy word hoog aangeslaan as spesialis wat betref afbreekpunte en kontak.

Treu se skuif weg van die Stormers se afrigtingspan beteken egter nie dat hy afrigting vaarwel toeroep nie. Hy het onlangs nog Japan se sewesspan tydens die Kaapstad-sewes gehelp.

Hy word deur Japan betrek met die oog op volgende jaar se Olimpiese Spele wat in Tokio aangebied word.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net