Print Page | Close Window

2018-oorsig: Super-soet én -suur vir Leeus

Printed From: Lionsworld
Category: Rugby Competitions
Forum Name: Super Rugby
Forum Description: Super Rugby
URL: http://www.lionsworld.co.za/forumnew/forum_posts.asp?TID=7170
Printed Date: 16-May-2024 at 2:05pm
Software Version: Web Wiz Forums 12.01 - http://www.webwizforums.com


Topic: 2018-oorsig: Super-soet én -suur vir Leeus
Posted By: Transvaal
Subject: 2018-oorsig: Super-soet én -suur vir Leeus
Date Posted: 31-Dec-2018 at 12:25pm
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/2018-oorsig-super-soet-en-suur-vir-leeus-20181224%20" rel="nofollow - https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/2018-oorsig-super-soet-en-suur-vir-leeus-20181224

Dit was maar weer dieselfde ou storie vir die derde jaar in ’n ry.

Die Leeus moes droëbek staan en toekyk hoe die Supertrofee aan hul teenstanders in die eindstryd oorhandig word.

Vir die tweede keer agtereenvolgens was dit die Crusaders wat seëvierend was, maar hierdie keer was dit op hul tuisbodem in Christchurch, met die Leeus wat met 37-18 geklop is.

Tog kan daar darem seker gesê word dat die Leeus die bestendigste span in die toernooi oor die laaste paar jaar was deur darem elke keer die eindstryd te haal.

Soos die Crusaders vanjaar se reeks oorheers het, was daar boonop nie vooraf veel hoop dat die Leeus die haas onmoontlike sou kon regkry deur daar in Christchurch te gaan wen nie.

In die geheel gesien, was dit dus eintlik nie ’n slegte seisoen vir wat nou weer Suid-Afrika se voorste span was nie.


Aphiwe Dyantyi het vanjaar sy stempel vir die Leeus in Superrugby afgedruk en is beloon met Springbok-kleure. Foto: Gallo Images
Die Leeus het gerieflik voor die res van die Suid-Afrikaanse spanne klaargemaak, met die Haaie wat algeheel agtste geëindig het en toe in die kwarteindronde met 40-10 afgeransel is deur die Crusaders.

Die Stormers het 11de geëindig met 29 ligapunte en die Bulle was 12de op dieselfde getal ligapunte.

Van hul 16 ligawedstryde het die Leeus nege gewen en sewe verloor, waarna hulle die Jaguares in die kwarteindronde met 40-23 geklop het en toe met 44-26 geseëvier het oor die Waratahs in die halfeindronde.

Die Haaie het sewe van hul ligastryde gewen en in een gelykop gespeel, terwyl die Stormers en die Bulle met elk ses van hul 16 stryde aan die wenkant was.

Die Leeus het vanjaar met ’n nuwe hoofafrigter, Swys de Bruin, en ook ’n jong klomp hulpafrigters, wat die eerste keer Superrugby ervaar het, die stryd aangepak.

Dit was gou duidelik hul verdediging was nie op standaard nie en uiteindelik het nederlae teen van die swakste spanne in die reeks, die Blues en die Reds, hulle duur te staan gekom.

Van die veld af was daar ook drama by die Leeus met ’n klag van seksuele aanranding wat op hul oorsese toer in Australië gelê is in Sydney deur ’n vroulike hotelwerker teen die verdedigingsafrigter, Joey Mongalo.

Dít het die Leeus se toer, wat so belowend begin het met ’n sege van 29-0 oor die Waratahs, laat ontspoor.

Tog was die Leeus deurgaans op die aanval goed en het hulle 77 drieë, die meeste in die ligafase saam met die Crusaders, gedruk, maar die 55 wat hulle afgestaan het, was ook naby aan die meeste in die reeks.

Beserings aan sleutelspelers soos Warren Whiteley, Ross Cronjé, Jaco Kriel en Malcolm Marx, het die Leeus ook kwaai gekniehalter, en uiteindelik het die span se karakter wel deurgekom deur die eindstryd te haal.

Jongelinge soos Aphiwe Dyantyi, Marvin Orie, Hacjivah Dayimani en Cyle Brink het ook gewys hulle hoort op die groter verhoog en dit was danksy die hegte familieband wat daar by hierdie span gevestig is, dat hulle weer uit die stryd getree het as Suid-Afrika se voorste span.

Juis daarom is hulle lof toegeswaai deur weer as naaswenner van die reeks na vore te tree, eerder as wat daar houe uitgedeel is dat hulle die derde jaar in ’n ry nie as die kampioen gekroon kon word nie



Replies:
Posted By: Goue Leeu
Date Posted: 01-Jan-2019 at 7:51am
2019 gaan taai wees sonder ysters soos Dreyer, Van Rooyen en Sous. Hoop ons kry binnekort goeie nuus oor kwaliteit aanwinste in sleutelposisies. Ons kan weer 'n krag wees indien ons, ons man kan staan in die vaste vyf en heelwat verbeter op verdediging.


Posted By: valie
Date Posted: 02-Jan-2019 at 8:56am
Originally posted by Goue Leeu Goue Leeu wrote:

2019 gaan taai wees sonder ysters soos Dreyer, Van Rooyen en Sous. Hoop ons kry binnekort goeie nuus oor kwaliteit aanwinste in sleutelposisies. Ons kan weer 'n krag wees indien ons, ons man kan staan in die vaste vyf en heelwat verbeter op verdediging.
Stem, en hoewel ek saamstem dat ons soms swak verdedig het, het ons ook tog baie driee afgestaan agv die feit dat ons balle in kontak verloor het. Ek is meer bekommerd oor dit as ons fisiese verdediging.
Die stats moet in konteks gesien word. Ek wil se dat omtrent die helfte van die driee wat ons afgestaan het, was agv balbesit wat omgekeer was. Ek glo as ons dit uitsorteer, ons verdedigings stats baie beter sal lyk.
Ek hoop Lewies kan Franco se skoene volstaan. Hy is nie n slegte speler nie.



Print Page | Close Window

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01 - http://www.webwizforums.com
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd. - https://www.webwiz.net