Die Valke gaan die Maleisiese hoofstad Kuala Lumpur as sy oorsese tuiste gebruik wanneer hulle binnekort hul buiging maak in die splinternuwe rugbyreeks Rapid Rugby.
Die nuwe rugbyreeks – die idee van die Australiese miljoenêr Andrew Forrest – bestaan hoofsaaklik uit spanne van Asië. Die Western Force, wat in 2017 sy Superrugby-status verloor het, en die Valke is albei deel van die deelnemende spanne.
Rudy Joubert, ’n direkteur van Valke Rugby, het aan Rapport gesê hulle is “opgewonde” oor die kans om hul staal teen internasionale spanne te wys. En hy glo ook die Valke sal mededingend wees nadat hulle verlede jaar in die eindstryd van die Eerste Liga teen die SWD-Arende gespeel het, al het hulle in die eindstryd verloor.
Die kompetisie sal tussen ses en agt spanne huisves, waarvan die Western Force, Fidji, Samoa, Singapoer en Hongkong al bevestig is.
“Ons is ver gevorder. Wêreldrugby het hulle goedkeuring vir die toernooi gegee en SA Rugby het nou ook vir ons toestemming gegee om in die toernooi te speel. Ons is nog besig om die ooreenkomste te finaliseer, maar dit is in ’n baie ver gevorderde stadium. Dit is werklik net ’n kwessie van dae voordat dit gefinaliseer sal wees,” het Joubert aan Rapport gesê.
Dit is opwindend en iets nuuts. Die neiging is al meer en meer om sulke kompetisies met ’n internasionale geur aan te bied.
“Ons is letterlik besig om al die papierwerk af te handel en dan hoop ons om so teen middel volgende maand oorsee te gaan. Ons gaan ons voorseisoense voorbereiding op die eiland Borneo in Sandakan doen.
“Ons gaan vir eers daar akklimatiseer en ons hoop ook om ’n opwarmwedstryd teen die Maleisiese nasionale span te speel – die hele idee is om te help om die rugby in Maleisië op te hef.
“Daar gaan afrigtingsklinieke gehou word en die idee is om hulle op te lei en hul rugby te verbeter. Hulle wil uiteindelik kwalifiseer vir die Wêreldbeker. Daar is ontsettend baie rugbyondersteuners in daardie lande.”
Die Rapid Rugby-reeks gaan op 29 Maart begin en Joubert sê sy span sal minstens tien wedstryde speel, en betyds terug wees in Suid-Afrika vir die begin van vanjaar se Curriebeker.
“Dit is opwindend en nuut. Die neiging is al hoe meer om sulke kompetisies met ’n internasionale geur aan te bied. Jy kan nie net staatmaak op die plaaslike mark om jou rugby te ondersteun nie. Ons was eintlik verplig om iets vir onsself te vind en gelukkig het ons dit nou reggekry. Vir ons kon dit nie op ’n beter tyd gebeur nie.”
Hy glo ook die veranderings aan die Suid-Afrikaanse kontrakteringsmodel – met die Super-franchises wat net 40 tot 45 spelers mag kontrakteer – gaan spanne soos die Valke help om talent te werf.
“Daar is ouens wat belang stel om by ons aan te sluit, dis ’n lekker geleentheid vir hulle, en dis iets nuuts. Dit gaan ouens wys hulle kan op ’n hoër vlak presteer as net op Curriebeker-vlak.”
Joubert glo dit gaan ’n goeie toets vir sy spelers wees om vier maande van die huis af weg te wees.