Forum Home Forum Home > Rugby Competitions > Super Rugby
  New Posts New Posts RSS Feed - Krige tree toe
  FAQ FAQ  Forum Search   Events   Register Register  Login Login


The Lions next play Cardiff at Ellis Park in the URC on 11 May 2024, kickoff is at 18:15

Krige tree toe

 Post Reply Post Reply
Author
Message
Transvaal View Drop Down
Admin Group
Admin Group


Joined: 30-Mar-2016
Status: Offline
Points: 39121
Post Options Post Options   Thanks (0) Thanks(0)   Quote Transvaal Quote  Post ReplyReply Direct Link To This Post Topic: Krige tree toe
    Posted: 03-Feb-2019 at 5:50am
https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/krige-tree-toe-20190202

’n Groep invloedryke en bekommerde oudspelers van die Westelike Provinsie, asook ontgogelde Stormers-spelers, gaan die grootste krisis op Nuweland in die beroepsera op die spits dryf.

Die oudspelers staan onder leiding van die voormalige Bok-kaptein Corné Krige.

In ’n week van hoogdrama waarin die sweer in WP Rugby oopgebars het, het die Stormers se spelerskorps op ’n vergadering Maandag ’n ultimatum aan topbestuurslede gestel en eerlike gesprekvoering oor die probleme by die franchise geëis. Hulle dreig om die feite in die openbaar bekend te maak as die rugbyleiers nie aan hul eis gehoor gee nie.

Die spelers het die WP se senior leierskorps wat op die vergadering was – Zelt Marais, president, Moneeb Levy, adjunkpresident, Paul Zacks, uitvoerende hoof, Gert Smal, direkteur van rugby, en dr. Johan van der Merwe, voorsitter van die direksie – enkele dae gegee om op hul griewe te antwoord.

Daar is glo ooreengekom dat daar voor 8 Februarie terugvoer aan die spelers gegee sal word.

Die spelers wil onder meer duidelikheid hê oor die Stormers se onbevestigde Superrugby-afrigtingspan en die toekoms van Paul Treu. Hulle vereis veral beter kommunikasie van die bestuur.

WP Rugby het ná Maandag se vergadering in ’n nuusverklaring erken dat dringende stappe vereis word om die onsekerheid oor die toekomstige afrigting- en bestuurspanne uit die weg te ruim.

Die spelers is so keelvol vir die huidige stand van sake dat ’n uittog gevrees word waarin tot 12 van die Stormers se topspelers hul rugby in 2020 elders sal speel. Die WP het tans net sekerheid dat sowat tien spelers van die huidige Superrugby-groep weer volgende jaar beskikbaar sal wees.

“Die waarheid is dat sowat 80% van die huidige groep spelers se kontrakte einde vanjaar eindig,” het ’n bron in WP Rugby se binnekringe gesê.

“Die spelers is keelvol vir die drama van die veld af en al die onsekerheid wat nou heers. Van hulle het reeds met hul agente gepraat om na ander opsies te soek. Alles dreig om uitmekaar te val.”

Robbie Fleck het Vrydag aan SA Rugbymag erken sy spelers is “gefrustreerd” met die huidige stand van sake. Fleck se kontrak eindig later vanjaar.

Krige-hulle se ingryping kom te midde van bewerings van ’n magstryd tussen amateur-administrateurs van die WP en sy sakevleuel, wat as die hoofrede beskou word vir die onmin wat hom tans in Kaapse rugby afspeel.

Krige-hulle se vertrekpunt is om eers die feite by alle betrokke partye te kry voordat hulle openbare uitsprake maak. Hulle het reeds aksieplanne gereed, het Rapport verneem.

Die oudspelers is besorg oor rugby in die WP, wil help om oplossings te vind en wil verhoed dat die Stormers-skip weens al die binnegevegte sink.

“Dis tans ’n geval dat daar voortdurend water uitgeskep word, maar die gat wat lek, word nie toegestop nie,” het ’n bron gesê.

Rapport verneem dat daar onder Kaapse rugbylui selfs twyfel bestaan of die magstryd dit nog moontlik maak vir Marais en Zacks om saam te werk.

“Albei het kantore op Nuweland, maar daar word net met mekaar gepraat as dit nodig is,” het ’n onberispelike bron gesê.

Verskeie ingeligtes met wie Rapport die afgelope week gepraat het, het gesê dat die unie openlik teen sy sakevleuel werk.

Die unie, wat die sakevleuel en al die WP se bates besit, wil glo hê dat die sakevleuel moet wegval. Die mikpunt is een beheerliggaam waarvan Marais in beheer is.

Dis welbekend dat die sakevleuel yslike geldelike probleme het en dat die unie vanweë sy bates die enigste reddingsboei vir die beroepsarm is.

Een van die vele sensitiewe binnegevegte wat woed, is wie van die unie of die sakevleuel by magte is om afrigters aan te stel.

Lede van die uitvoerende raad (unie) meen die mag lê by hulle. Die direksie (sakevleuel) beskou dít egter as ’n probleem ten opsigte van gesonde korporatiewe bestuur. Die direksie sluit afgevaardigdes van borge in.

Treu bly intussen ’n tameletjie vir WP Rugby. Ná drie maande is daar nog nie ’n postitel of posbeskrywing vir hom nie.

Nadat hy en Smal in November opdrag van die direksie van WP se sakevleuel gekry het om oor sy postitel en -beskrywing te besluit, kon hulle nie eenstemmigheid bereik nie.

Treu is gekant teen ’n postitel met ’n afgewaterde beskrywing, terwyl Smal keer dat Treu nie sy (Smal se) terrein betree nie.

Smal is deeglik bewus van die vertrouensbreuk tussen Treu en sekere spelers en afrigters van die Stormers en dit het sy gesprekke met die voormalige Blitsbok-afrigter beïnvloed. Dit volg nadat Treu verlede jaar in onder meer voorvalle met Fleck en Paul Feeney betrokke was.

Treu het glo wel aan Smal aangedui dat hy in sy nuwe pos sy afstand van die Stormers sou hou totdat die lug tussen hom en die betrokke partye gesuiwer is.

Smal se kontrak eindig later vanjaar en daar word beweer dat Treu groot steun onder lede van die uitvoerende raad geniet vir ’n belangrike rol vorentoe.

Die sakevleuel se direksie wil volgens Die Burger glo hê dat Treu se paaie met dié van die WP skei. Verskeie spelers steun volgens Rapport se inligting die sakevleuel hierin.

Treu se ondersteuners meen die bewerings van onmin is oordrewe.

Rapport het sonder sukses probeer om kommentaar by Zacks en Marais te kry.
Back to Top
 Post Reply Post Reply
  Share Topic   

Forum Jump Forum Permissions View Drop Down

Forum Software by Web Wiz Forums® version 12.01
Copyright ©2001-2018 Web Wiz Ltd.

This page was generated in 0.141 seconds.